Maties: Vernuftig met volhoubaarheid

tygerberg

Die eko-laan op die Tygerberg-kampus. Foto: Stefan Els.

 

Volhoubaarheid is die gonswoord van die 21ste eeu én een van die Universiteit Stellenbosch se voorrangsake. Maar wat beteken dit in die praktyk? Onlangse ontwikkelings op ons kampusse maak omgewingsvolhoubaarheid nou ’n tasbare werklikheid.

Volhoubaarheid is die gonswoord van die 21ste eeu

Volgens die Wêreldkommissie oor Omgewing en Ontwikkeling is volhoubaarheid die vermoë om in huidige menslike behoeftes te voorsien en lewensgehalte te verbeter en te ontwikkel, sonder om meer materiaal en energie te verbruik as wat ons ondersteuningstelsels tans kan hanteer.

So, wat presies beteken volhoubaarheid vir die Universiteit Stellenbosch (US)?

“Volhoubaarheid is ’n onmisbare element van die universiteit se institusionele voorneme en strategie,” sê dr. Barbara Pool, direkteur: Projekte, wat die Volhoubaarheidsinisiatief bestuur. “Die universiteit moet let op die ekologiese voetspoor wat sy werksaamhede op die omgewing laat. Dit sluit ons navorsing asook ons geriewe soos geboue, proefplase en tuine in,” voeg sy by.

Volhoubaarheid verwys ook na die impak van werksaamhede op mense, die samelewing en die ekonomie. “Dit geld veral vir ons as universiteit, want ál ons kernbedrywighede – leer en onderrig, navorsing en sosiale impak – is op mense gerig,” sê Pool. In antwoord op hierdie volhoubaarheidsdoelwitte bedryf die universiteit verskeie inisiatiewe met die oog op waterbesparing, herwinning, energiebesparing en mobiliteit. “Daarbenewens het ons ’n aantal ander opwindende projekte wat reeds vrugte afwerp, soos die bewaring van berggebiede, gereelde boomplant-inisiatiewe, ’n ‘eko-laan’ op ons Tygerberg-kampus, en die uilhokprojek op die Stellenbosch-kampus,” sê Pool.

Tygerberg-kampus is geleë in ’n gebied waar Kaapse Vlakte-sandfynbos histories voorgekom het. Tog het snelle verstedeliking dié plantegroei dermate uitgewis dat slegs 15% oorgebly het, waarvan net 5% in ’n goeie toestand is. Toe die studentekoshuis Huis Ubuntu op die Tygerberg-kampus gebou is, het dit ’n geleentheid gebied om nuwe tuine om die gebou aan te lê. In oorleg met plantkundiges van die Stad Kaapstad en die Plattekloof-erfenisterrein is ’n verskeidenheid spesies uit die Kaapse Vlakte-sandfynbosgroep gekies om langs ’n nuwe eko-laan te gebruik.

“Die gedagte met die eko-laan is dat studente, personeellede en besoekers op die kampus kan rondbeweeg op ’n roete wat deur plaaslike fynbos loop. Tot dusver is sowat 250 m van die eko-laan aangelê, en sal ’n geraamde 1 km uiteindelik beskikbaar wees sodra fase 3 van die projek voltooi is. Die einddoel is dat die eko-laan om die hele kampus sal loop,” sê Meg Hamilton, omgewingsbestuurder in die US se afdeling Fasiliteitsbestuur.

Die gedagte met die eko-laan is dat studente, personeellede en besoekers op die kampus kan rondbeweeg op ’n roete wat deur plaaslike fynbos loop

Dieselfde endemiese tema is na alle nuwe landskappe op die Tygerberg-kampus uitgebrei en enige nuwe plante wat gebruik word, moet uit die lys spesies kom waarop daar saam met die plantkundiges van die Stad Kaapstad en die Plattekloof-erfenisterrein besluit is. ’n Geskatte 5 030 m2 van die kampuslandskap is nou endemies, wat Tygerberg onteenseglik ’n “groen” kampus maak. Van die plante wat in die fynbosgebiede op kampus aangetref word, is proteas, restio’s (Restionaceae), asters en erikas (heide).

environmental-protection-683437_1280

Foto: Pixabay

Inheemse jaarplante en -bolle is ook volop in die lente. Afgesien van die natuurskoon van die fynbos, hou dit ook ’n aantal voordele in. Kaapse Vlakte-sandfynbos is natuurlik aangepas by die plaaslike klimaat. Dít beteken dit vereis minder water in die somermaande en kan ook die nat Kaapse winters deurstaan. “Die fynbos dra ook by tot die biodiversiteit van die omgewing deur ’n groen korridor in ’n oorwegend stedelike gebied te skep en sodoende voëls en ander diere wat natuurlik in dié streek voorkom hierheen te lok. Daarom hoef ons nou minder plaagdoders te gebruik, want die plaaslike fauna tree as natuurlike roofdiere op,” sê sy. Ideaal beskou, is ’n ekologies volhoubare kampus een waar geen chemiese gifstowwe gebruik word om plae te beheer nie.

Een manier om hierdie dilemma te hanteer is om meer roofvoëls na die kampus te lok sodat minder gifstasies vir die beheer van rotte, muise en ander knaagdiere gebruik hoef te word. Dít was dan ook die beweegrede vir die uilhokprojek op Stellenbosch-kampus.

Om hierdie uile na Stellenbosch-kampus te lok, is tien uilhokke in 2012 en 2013 verspreid oor die kampus aangebring

“Steenuile en nonnetjiesuile teel aan in die stedelike groenstroke wat deur die meeste Wes-Kaapse voorstede loop. Om hierdie uile na Stellenbosch-kampus te lok, is tien uilhokke in 2012 en 2013 verspreid oor die kampus aangebring. Die gedagte is om die voëls van broeiplekke in die kampustuine te voorsien,” sê Hamilton. Uilpare sal hopelik uiteindelik hierdie kunsmatige ruimtes gebruik om hulle kleintjies in groot te maak, wat knaagdiere en verskeie insekspesies sal help beheer sonder dat skadelike chemikalieë gebruik hoef te word. “Jong uile wat in hierdie hokke grootword, sal hierheen terugkeer om hulle eie kleintjies groot te maak. Hierdie kenmerk, wat as sogenaamde ‘geboorteherkenning’ bekend is, sal na verwagting selfs méér voëls na die omgewing van die uilhokke lok,” verduidelik Hamilton. Hoewel ’n paar steenuile al op kampus opgemerk is, moet nonnetjiesuile nog hulle verskyning maak. Hopelik sal ’n hele paar uile die hokke as ’n teelplek sien en binnekort daarin begin broei.

“Die universiteit se Volhoubaarheidsinisiatief bied reeds verskeie voordele vir die omgewing, mense én ons finansiële lewensvatbaarheid. Daar is nog baie om te doen, maar met soveel rolspelers wat geesdriftig saamwerk, kan die universiteit na ’n baie lang en volhoubare toekoms uitsien,” reken Pool.

Bron: Matieland

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae