Meals on Wheels bring hoop vir Hopetown-boere

(Foto: Verskaf)

Meals on Wheels het, as deel van hul Droogtehulp 2020-projek, onlangs tydelike verligting gebring aan die boeregemeenskap van Hopetown in die Noord-Kaap.

Een van die boere in dié streek moes reeds al sy vee verkoop aangesien hy nie genoeg voer sou hê om hulle deur die winter te dra nie.

Die groep boere het op 18 en 19 Maart sowat 20 ton lusern, 12 pakkies benodigdhede vir die boere, 50 kruidenierspakke en 80 vrouepakkies vir die eggenote en dogters van die boere ontvang.

Een van die boere en ʼn boerseun het elkeen ook nog ʼn verjaardagkoek ontvang – hulle sou andersins nie hulle verjaardag kon vier nie.

(Foto: Verskaf)

Diegene wat betrokke was by hierdie emosionele dag het gesê dit was ’n dag wat hulle sal bybly en dat dit ’n voorreg was om die dag met die boeregemeenskap te deel.

“Julle bring nie net kos vir die diere nie, maar ook hoop vir ons, want solank ons diere het, het ons werk,” het een van die plaaswerkers gesê.

Daar was ook boere wat versoek het dat die pakkies eerder aan die gemeenskap van die Tafelkop-omgewing oorhandig word aangesien dié mense meer kwesbaar is. Hierdie gemeenskap bestaan meestal uit plaaswerkers wat weens die droogte nie in diens van die boere kon bly nie.

“So ’n uitreik sal nie genoeg verligting bring vir die huidige droogte in Suid-Afrika nie, maar dit bring hoop vir die boeregemeenskap,” het Meals on Wheels in ʼn verklaring geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.