Skenk ons ’n Kersfees met ons familie daar ver

(Foto: Ivan Diaz/Unsplash)

Welkom, liewe familie uit die vreemde, onder die Suiderkruis. Kersfees kom, en my familie uit die VSA ook!

Of so het ons gedink. Covid-19 het weer die mat onder ons uitgeruk. Nou sit ek onseker en effens verwese op die koue vloer en wonder of die wêreldleiers ons familie aan die ander kant van die wêreld ʼn Somerkersfees sal gun.

In Januarie 2020 verhuis my ousus, my swaer en hul drie seuns na die VSA. Ná groot gewroeg en gewonder het hulle die stap geneem. Dit is ʼn slag vir ons gesin, sy is die eerste een van ons vier susters wat ver wegtrek; buite bereik vir verjaardagvieringe, familiesaamtrekke, nefie-kuiers en sussie-samesyn.

Ons luister na hulle redes vir die besluit om te gaan en ons verstaan. Daar is ʼn goeie werkgeleentheid vir my swaer, blink vooruitsigte vir die kinders, dit gaan ʼn avontuur wees. Suid-Afrika gaan agteruit, niemand weet of ons kinders gaan werk kry nie, niemand is meer veilig in hul eie huise nie. Ons stuur hulle hartseer maar moedig weg met Elvis Blue en Theuns Jordaan se woorde: “Dié is jou huis; gee nie om waar jy opeindig; ʼn deel van jou sal altyd bly.”

Ons hou hande vas, druk mekaar styf, praat opgewek oor wanneer hulle kom kuier – binnekort! – en dat ons beslis daar gaan kuier wanneer ons sneeumanne kan bou.

En dan, twee maande later, tref Covid-19 die wêreld. In Maart is Suid-Afrika totaal ingeperk en ons kan nie eers by die familie in ʼn ander provinsie gaan kuier nie, watwou dié in ʼn ander land. Hul plan om in Junie te kom kuier val deur die mat. Desember se Kersfeeskuier is ook van die baan en ons hou almal duim vas dat ons sommer vroeg in 2021 planne kan beraam om mekaar te sien, vas te hou, in die oë te kyk.

Maar die hoop beskaam.

Die verlangende Fouries in Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

Ek stuur elke Sondag ʼn stemboodskap met ons nuus en vra uit oor wat by hulle gebeur. Dis die maklikste manier, want daar is nou sewe uur se verskil tussen ons. Ousus vertel oor die sneeu, ek oor ons warm sonskyndae. Nefie Thinus het ʼn tenniswedstryd gewen, ons Johannes was by ʼn Voortrekkerkamp. Hulle het ʼn oulike restaurant met ʼn mooi uitsig oor die bos ontdek, ons was weer by daardie lekker koffiewinkel waar hulle ook graag koek geëet het, vertel ons oor en weer.

Verlange is ʼn vreemde ding. Soms tref dit jou soos ʼn vuishou in die maag, jy wil huil daarvan. Soms is dit soos ʼn koue druppel dou wat saggies maar onverwags op jou voorkop val, jy glimlag hartseer oor ʼn mooi herinnering. Soms is dit soos ʼn kriek wat snags sing, ʼn konstante teenwoordigheid waarvan jy nie eers bewus is nie, maar dit is dáár.

Wanneer ek kaaskoek eet verlang ek, want dit is Ousus se gunsteling, of my swaer se geliefde lemon meringue. Wanneer ek Billy Joel oor die radio hoor, want sy dans so lekker daarop. Wanneer die varkoor wat sy vir my gegee het so pragtig blom. Wanneer my seuntjie sy bruin breërandhoed dra of sy vliegtuiglegkaart bou, want dit was sy nefies s’n gewees.

Wanneer ons ʼn foto neem by ʼn verjaarsdagpartytjie, maar dit nie ʼn familiefoto kan noem nie, want hulle plekke is leeg. Leeg op die foto, maar altyd teenwoordig in ons gedagtes en harte.

Nadat die derde vlaag oor is en die vrees vir virus effens bedaar het, begin ons weer uitsien want hulle kom in Desember kuier!

Kort voor Kersfees sal ons hulle by die lughawe gaan haal. Kersfees sal een vir die boeke wees en ons beplan klaar by wie se huis ons Oukersaand gaan wees, ons trek lootjies vir Kersgeskenke, droom oor Kersdag se kerkdiens, langs mekaar in die kerkbank soos dit hoort. Ons sal soos die Kerslied vra, vrolik en vol vreugde in die gees sáám na Betlehem gaan om die Kindjie te loof, tot ons heil gebore.

Wanneer Kersfees verby is volg die volgende groot gebeurtenis: Ousus se verjaardag op 30 Desember. Ek bespreek ʼn wegbreek vir die hele uitgebreide gesin, sommer vir verjaarsdag- en Nuwejaarsvieringe, en ons konkel onder mekaar oor die koek, geskenke en speletjies vir die dag. Die verblyf is nie luuks nie en die klomp nefies gaan sommer saam in ʼn tent slaap, maar ons gaan bymekaar wees, want dit is al wat tel.

Die familie in die VSA. (Foto: Verskaf)

Dan tref die vierde virus-vlaag. Die wêreld sluit Suid-Afrika uit. Ons ballon blaas stadig af.

Al die planne en drome is in die weegskaal. Kan hulle nog kom? Die konsulaat in die VSA sê nee, maar ons wil dit nie glo nie. Ons plaas al ons hoop en vertroue in ons president, om die wêreld te oortuig dat hulle onregverdig is, dat hulle Suid-Afrikaners moet toelaat om te gaan én weer terug te keer. Hulle kan dit nie aan ons doen nie, ons ekonomie sal dit nie hou nie. Belangriker nog, ons harte sal dit nie hou nie.

Nou wag ons. Ons praat mekaar moed in. Ons dink nog nie aan Plan B vir Kersfees, as ons familie uit Amerika dalk nie by ons is nie. Dit is eenvoudig ondenkbaar. Want ons verlang verskriklik, verskriklik, verskriklik baie, soos my ousus verlede Sondag met ʼn swaar hart oor ʼn stemboodskap vir my sê.

Die onsekerheid wat in hierdie tyd aan ons knaag oorheers alles. Dit is moeilik om vir oulaas behoorlik op werk te fokus, om volkome na die vakansie uit te sien, om die Kersfeesgees te omhels. Want ek wil háár omhels, ek wil my swaer en kleinneefs elkeen met my arms teen my vasdruk, hul harte voel klop, hul warmte ervaar en myne ook vir hulle gee.

Sal ons mekaar kan druk? Ons weet nog nie. Sal ons tot laatnag kan gesels langs ʼn braaivleisvuur? Dit hang van die diplomate af. Sal ons saam kan swem, lag, Kersliedjies sing, geskenke uitruil, sommer net wéés? Ons hoop en bid met ons hele hart daarvoor.

Skenk ons asseblief ʼn helder Somerkersfees saam met ons buitelandse familie, in hierdie land, o Heer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.