Swak sig gʼn hindernis vir dié storieverteller

Tersia van der Westhuizen (Foto: Verskaf)

Tersia van der Westhuizen se ma was swanger met haar toe sy en Tersia se pa in ʼn motorongeluk betrokke was. Afgesien van die impak wat hierdie ongeluk op die swangerskap gehad het, is Tersia boonop ook te vroeg gebore.

Dit het daartoe gelei dat sy met ʼn rare oogprobleem, optiese atrofie, gediagnoseer is en dus beperkte sig het.

Siggestremdheid kom weliswaar met baie uitdagings, maar om kinderstories te skryf is nie vir Tersia een van dié hindernisse nie. Te danke aan tegnologiese vooruitgang wat haar in staat stel om ʼn rekenaar te gebruik, kan sy deesdae gemaklik haar stories tik.

“In die verlede het ek op ʼn regte, ou Olivetti-tikmasjien getik. Ek moes woord vir woord en boonop baie mooi tik, want as daar een fout ingesluip het, moes ek die hele storie oortik.

“So moes ek myself van die begin af leer om bewus te wees van spelling en leestekens. As gevolg van die uitdagings met ʼn tikmasjien, is ek baie gesteld daarop om netjiese en akkurate werk te lewer,” vertel Tersia aan Maroela Media.

Haar eerste kinderverhaal, Fanie en sy hond, is 1981 op Siembamba, ʼn gewilde kinderprogram wat destyds deur die SAUK aangebied is, voorgelees. In 1984 is nog twee van haar verhale, Twee klein dwergies en Hoppie se seer voet, ook op dié radioprogram voorgelees.

ʼn Heruitgawe van Fanie se hond is in 2017 gepubliseer en daarna is nog van Tersia se kinderstories uitgegee. Dit sluit onder meer Georgie die rot en Sheba in, en van haar verhale was deel van die avontuurreekse Bolemakiesie en Oepsidysie. Dié reekse is in samewerking met die groep SA Kinderboekskrywers geskryf waarin verskeie skrywers se stories verskyn het.

Tussendeur het daar verskeie kortverhale uit haar pen verskyn en sy lewer tans in opdrag van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) leesboeke vir graad eens.

Van die leesboeke wat Tersia van der Westhuizen vir die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) skryf. (Foto: Verskaf)

Dit is alles goed en wel, maar ʼn skrywer is sy nie juis nie, meen Tersia.

“Ek wil nie rondloop en verkondig dat ek ʼn skrywer is nie. Dit gaan meer daaroor om iets te skep wat ander mense kan geniet, en dat veral kinders hulself in die stories kan verlustig.”

Sy en haar man het onlangs sak en pak Weskus toe getrek om daar te gaan aftree. “Ek gaan beslis meer tyd hê om te skryf en dit maak my opgewonde. Daar is reeds ʼn storie waaraan ek werk en wat hopelik binnekort sal verskyn.”

Tersia het een doelwit met haar skryfwerk, en dit is om spesifiek vir Afrikaanse kinders vermaak in hulle eie taal te skep. “Ek hoop om kinders van die televisie af weg te lok met stories wat in keurige Afrikaans geskryf is. Dit sal wonderlik wees as ek tot ʼn jonger leeskultuur kan bydra deur lesers te kweek wat boeke verslind.”

  • Om Tersia van der Westhuizen se boeke te koop stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 071 311 2863 om meer te wete te kom. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.