Talle voordele van tweedehandse items as geskenke

Marné du Plessis, bemarkingsbestuurder van Helpende Hand se Ons Winkels, deel nuttige wenke om die Kersseisoen verantwoordelik te betree.

Deur Marné du Plessis, bemarkingsbestuurder van Helpende Hand se Ons Winkels

Die einde van die jaar kruip nader en op die vooraand van die feesseisoen is dit belangrik om te onthou dat jy jou salaris in die komende twee maande matig moet gebruik en jou sente twee keer omdraai.

In ons huidige ekonomiese toestand het ons leefstyl, en ook ons gedrag, heelwat verander in vergelyking met vroeër jare. Hierdie veranderinge het ook veranderinge in ons finansies meegebring: hoe ons dit verdien, hoe ons dit bestee en hoe ons op verskeie maniere hier en daar ʼn bietjie kan spaar. Die Ons Winkels, Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels, het vir jou ʼn oplossing – gee jou beursie ʼn blaaskans en koop jou Kersgeskenke by jou naaste Ons Winkel.

Om jou Kersgeskenke tweedehands te koop sal jou help met jou begroting deur die feesseisoen. Dit is egter nie almal wat tweedehandse items sal wil hê nie, so wees wys met wat jy gee en vir wie jy dit gee!

Voordele

Daar is verskeie redes hoekom dit voordelig is om ongewensde items uit jou huis, of items van ʼn Ons Winkel, as ʼn verjaarsdag- of Kersgeskenk te gee. Dit is goed vir die planeet, dit spaar jou geld, die geskenk is uniek, dit ondersteun ʼn sirkulêre ekonomie en dalk inspireer dit ander om ook tweedehandse geskenke te gee.

Ons planeet word oorstroom met ingevoerde items wat oorvervaardig word. Die aankoop van nuwe items elke seisoen verhoog die vraag na meer en meer items en dit veroorsaak dat die vervaardiging van nuwe items bly toeneem. En so is dit ʼn aanhoudende kringloop in die verbruikersiklus. Om jouself uit dié verbruikersiklus te verwyder, help om die vraag na nuwe items te verminder.

Bespaar geld

Waar jy werklik die verskil gaan agterkom van hoeveel jy gespaar het, is deur die pryse van die tweedehandse items wat jy gekoop het met soortgelyke nuwe items te vergelyk. Deur tweedehands te koop, sal jy sien daar is ʼn sowat 50%- tot 94%-besparing op dit wat jy sou betaal het as jy die item nuut gekoop het. Hier praat ons nie van geskeurde T-hemde of sifgebruikte items nie. Jy moet steeds kieskeurig wees wanneer jy tweedehands koop, asof jy by ʼn ontwerpersboetiek sou instap en iets sou wou koop. Jy kan pragtige geskenke tweedehands koop wat van uitstekende gehalte is. Dink net aan al die besparings vir jou beursie!

Ekonomies

Die koop van tweedehandse geskenke ondersteun ʼn sirkulêre ekonomie. Wanneer jy iets nuut koop, gaan jou geld heel moontlik na ʼn massiewe maatskappy wat meer daarop gefokus is om wins te maak as om te woeker met die fondse en dit vir ʼn goeie doel aan te wend. Wanneer jy tweedehands koop en die sirkulêre ekonomie ondersteun, gaan die fondse vir ʼn goeie doel en stel dit byvoorbeeld Helpende Hand in staat om wonderwerke te verrig.

Skattejag

Om tweedehandse geskenke te koop is regtig soos om na skatte te soek en dit is pret. Dit is ʼn groot beloning as jy iets waarna jy op soek was, teen ʼn verstommende prys kry. As jy ʼn ware winskopiejagter is, sal jy weet hoe opwindend dit is om iets werklik spesiaal of ongewoon vir jou geliefde te vind. Tweedehandse Kersgeskenke is uniek. Deesdae word daar so baie items geproduseer dit is werklik nes ʼn koekiedrukker – alles is dieselfde, maar wanneer jy tweedehands koop, is die kans goed dat jy iets heeltemal uniek en anders sal kry.

Goeie gehalte

Nog ʼn voordeel van tweedehands koop is dat jy meer luukse geskenke kan koop as wat jy gewoonlik sou kon. ʼn Ander opsie is om jou begroting dieselfde te hou, en produkte van hoër gehalte by die Ons Winkels te koop. Ja daar is hoëgehalte items wat jy dalk nie nuut sou kon bekostig nie, maar hier gee dit jou die geleentheid om van die luukse items te koop. Ek het een keer ʼn GHD-haardroër by een van die Ons Winkels gekoop. Dit het steeds ʼn hoë prysetiket gehad, maar die haardroër was goed opgepas, het nog 100% gewerk en steeds minder gekos as wat ek nuut vir hom sou betaal, so ek het steeds gevoel dat ek ʼn goeie winskoop gekry het.

Omgewingsvriendelik

Deur tweedehandse items as geskenke te koop en te gee inspireer jy dalk net ander om ook tweedehandse Kersgeskenke te gee. Dink net aan al die mense wat jy kan inspireer om meer eko-vriendelik en ekonomies te wees en ook die Ons Winkels, en só jou direkte gemeenskap, te ondersteun.

Besoek ons webwerf by www.onswinkel.co.za om jou naaste Ons Winkel op te spoor.

Bron: https://www.minimizemymess.com/blog/normalize-secondhand-gifts

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.