Traumasentrum ’n baken van hoop vir kinders

Erika Lingenfelder van Kameeldrift-Oos se gemeenskapspolisiëringsforum saam met Elmari Murphy. (Foto: Verskaf)

“Ons is daar wanneer ʼn persoon se keuses van hulle af weggeneem word. In traumatiese situasies is ons eintlik die gesig van hoop en ondersteuning wat slagoffers nodig het.”

So beskryf Elmarie Murphy, koördineerder van Kameeldrift Trauma Support (KTS), dié sentrum se rol wanneer hulle op ʼn toneel aankom.

Die Kameeldrift-traumasentrum is ʼn gemeenskapsorganisasie in die noordooste van Pretoria wat traumabehandeling en nasorgdienste verskaf aan die gemeenskap van Kameeldrift-Oos en Roodeplaat.

“Ons oogpunt is om hoop te skep. Of dit nou ʼn insident van huisgeweld, ʼn motorongeluk of roof is. As die slagoffer nie aan hoop kan vashou nie, kan hulle in daardie oorweldigende situasie vinnig moed verloor.”

Met die oog op Nasionale Kinderbeskermingsweek wat tot Sondag 5 Junie duur, gesels Murphy oor hulle betrokkenheid by kindertrauma en die “Broken crayons can still colour”-veldtog.

Hiermee wil Murphy en haar span kinders inlig oor moontlike gevare soos wanneer ʼn vreemdeling hulle met geskenke wil lok en waar om vir hulp aan te klop wanneer hulle mishandel word.

Die veldtog het verlede week met skolebesoeke in die omgewing afgeskop. Murphy vertel dat kinders se stemme spreekwoordelik gehoor is deur een geverfde handpalm op gekleurde lappe te druk.

Nadat die verf droog geword het, is die lappe rondom bome in die omgewing gedraai en daar is ook bypassende plakkate opgesit wat die aandag op kinders se beskerming vestig.

Die Kameeldrift-traumasentrum se gelukbringer, iemand wat soos ʼn inkleurkryt opgemaak is. (Foto: Verskaf)

Tydens die traumasentrum se opvolgbesoek aan skole het ʼn gelukbringer, iemand wat soos ʼn inkleurkryt opgemaak is, ʼn kort stuk opgevoer. Die stuk leer kinders dat niemand hulle mag slaan of seermaak nie, dat dit nie veilig is om geskenke van vreemde mense te ontvang of gedwing word om geheime te hou nie.

Murphy sê verder dat daar ook plakkers met die traumasentrum en ambulans se noodnommers aan die kinders uitgedeel is. Dit het glo in die verlede al groot pret veroorsaak wanneer die kleingoed hierdie nommers getoets het om seker te maak dat dit werk. “Verlede jaar het hulle ons en die ambulans goed besig gehou, maar ons kla nie.”

Nog ʼn deel van die bewusmakingsveldtog vir kinderbeskerming, en ʼn manier vir die publiek om dit te ondersteun, is die groen strikkies wat teen R10 verkoop word en gekleurde lappe vir R100 wat dan om ʼn boom gedraai kan word.

“Ons wil mense graag aanmoedig om die sentrum te ondersteun. Hierdie finansiering maak ons hande sterk en sodoende kan ons mense in en deur noodsituasies dra,” sê Murphy.

Te danke aan ʼn groep weldoeners, wat mense met grade in regte, sielkunde, maatskaplike werk en teologie insluit, en ʼn goeie verhouding met die plaaslike polisiestasie en gemeenskapspolisiëringsforum, Advanced Paramedic Assist (APA)-ambulansdiens en lede van die publiek, is dié sentrum waarlik ʼn baken van hoop vir die gemeenskap.

Die Kameeldrift Trauma Support (KTS) se plakkers wat by skole uitgedeel is. (Foto: Verskaf)

Murphy sê die sentrum ontvang gereeld oproepe en navrae van mense wat hulp aanbied. Wanneer lede van die publiek wil weet hoe hulle kan bydra of betrokke raak, moet hulle eers deur ʼn keuringsproses gaan.

“Die publiek moet in ag neem dat ons met weerlose mense en kinders werk,” herinner Murphy. “Ons grootste verantwoordelikheid is om hierdie persone se veiligheid en privaatheid te beskerm.”

Dit is wel moontlik vir mense wat die Kameeldrift-traumasentrum wil ondersteun om ʼn geldelike bydrae te maak. Murphy sê die organisasie reken grootliks op finansiële bydrae wat hulle dan in staat stel om slagoffers volgens spesifieke behoeftes by te staan.

Vir meer inligting oor Kameeldrift Trauma Support (KTS) besoek dié organisasie se webwerf by www.kameeldrifttrauma.org.za of volg die organisasie op sosiale media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.