Video: Vul jou Kerskous én maak ʼn verskil by Nickel Kersmark

Nádine het by Kungwini se inwoners gaan kuier. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die Kungwini-welsynsorganisasie se jaarlikse Nickel Kersmark maak vandag sy deure oop en is die perfekte geleentheid om jou Kerskous te vul en terselfdertyd ʼn daadwerklike verskil in die lewe van mense met gestremdhede te maak.

Dié mark sal tot Sondag 4 Desember tussen 09:00 en 17:00 oop wees en vind by die Kungwini-welsynsorganisasie se perseel in Zwavelpoort, Pretoria-Oos, plaas.

Maroela Media het vroeër berig dat Kungwini, voorheen bekend as die Paul Jungnickel-tehuis vir volwasse gestremdes, se deure in 1983 geopen is. Vandag huisves en versorg hulle byna 160 gestremde volwassenes en 25 senior volwassenes.

Talle dekor-items sal by die Kersmark te koop wees. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Dié organisasie bied ook maatskaplikewerk-dienste en -projekte aan om die gemeenskapslede in hul onmiddellike omgewing by te staan ​​en op te hef, waaronder ‘n vroeë leersentrum wat skoolopleiding vir voorskoolse kinders van die gemeenskap bied.

Kungwini se jaarlikse Kersmark is sy grootste geldinsamelingsprojek en help dié instansie om byna die helfte van sy jaarlikse koste te dek.

Benewens die 190 uitstallers wat plaaslike topprodukte verkoop, kry Kungwini se eie inwoners ook kans om van hul spoggerige tuisgemaakte produkte waaraan hulle die hele jaar lank werk by die Kersmark uit te stal.

Produkte sluit onder meer sakke, juwele, meubels, dekoritems en vele meer in. Daar sal ook ʼn ontspanningsgedeelte met verversings en regstreekse musiekoptredes wees.

Die inwoners gee ou meubels nuwe lewe. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Besoekers sal ook vanjaar die bekende Afrikaanse sangeres Nádine sien terwyl sy haar Kersinkopies by dié gewilde mark doen.

“Kungwini is nie ʼn tehuis nie, maar ʼn werklike huis waar inwoners tuis voel en soos ʼn familie funksioneer,” vertel die sangeres, wat onlangs saam met AE Switch dié organisasie as deel van hul welstandsdag besoek het.

“Benewens die nodige mediese sorg en toesig, word daar ook gemeenskaplikheid tussen mense gekweek. Hier is soveel liefde en samehorigheid, so hoekom sal mens hulle nie wil ondersteun nie?”

Sy het toe ook ʼn voorsmakie van die Kersmark gekry en skertsend erken dat daar reeds ʼn paar Kungwini-items onder haar Kersboom pronk.

“Ek haal my hoed vir instansies af wat inisiatief te midde van uitdagende tye neem en besluit om kreatief met hul hande te raak en iets pragtigs en unieks te skep.”

Kyk dié video om te sien na watter items besoekers vanjaar kan uitsien:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.