Oom Herrie se kerrie: Clara se kind

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

As ’n mens van Clara gepraat het, het die “ou mense” se stemtone amper gedemp geword, en dit was duidelik dat daar nou met groot ontsag gepraat word. Clara was klaarblyklik ’n heel besondere hond.

Die agtergrond is net so besonders. Oupa Nic Meyer het in Hennenman se wêreld ’n saaiboerdery gehad, maar sy gesondheid was nie na wense nie. Toe trek hy na Merino buite Bloemfontein toe om met vee te boer. Nie lank nie, toe besef hy die plantpotensiaal van dele van dié veeplaas, en sit ’n hele graanboerdery in die omgewing aan die gang. Trouens, sy seun Nico, wat ’n jaar of wat gelede oorlede is, was een van die stigters van Sampi en die Sampi-oesdag. Dis aanvanklik buite Bloemfontein gehou, en die vliegveld was op oom Nico se grond.

Die eintlike storie begin by die Ramagogas wat saam Bloemfontein toe getrek het. Oom Herrie onthou die ou vader, Jacob, net as ’n bitter ou man in ’n kombers toegedraai, en hoe respekvol die Meyers teenoor hom was. Sy seuns, Abel, Abraham en Samuel, onthou oom Herrie nog beter, en dat hulle almal innemende geaardhede gehad het, en elkeen op sy gebied ’n voorslag was.

Dis by die Ramagogas dat oupa Nic by geleentheid ’n klein hondjie, Clara, present gekry het. Oom Herrie onthou haar as ’n groot foxterriër, maar in plaas van swart kolle, had sy bruin kolle.

Ongelukkig is almal behalwe ma Johanna wat van Clara se legendariese dade kon vertel, oorlede. Ma self is al jare met demensie in ’n inrigting en ken gewoonlik nie meer haar eie kinders nie. Oom Herrie gaan dus nie eens probeer om Clara te besing nie, behalwe om te meld dat iets onthou word van ’n slang wat sy aangeval het om haar mense te beskerm.

Met oupa Nic se lang siektes in die bed het sy glo pal gewaak, sy en ’n nagaap wat baie erg oor oupa was.

En al was oupa so sieklik – oom Herrie was maar ’n pikkie van so twee toe oupa tydens vakansie by De Bakke oorlede is, het ouma Meyer altyd geglo sy is die sieklike een wat eerste sal sterf. Maar soos dit dikwels gaan, is die langslewende toe eerste dood. Ouma het oupa met dekades oorleef, en soos twee van haar broers, in die negentig geword. Trouens, een van haar broers, oom Pieter de Necker, is kort voor hy honderd sou word dood.

Maar net ’n paar jaar ná oupa se dood het ouma Meyer ’n kwaai angina-aanval gehad. Ma, en kleinsus wat nog nie op skool was nie, is van Stellenbosch waar die Herries toe gewoon het met die trein Bloemfontein toe om ouma by te staan. Toe hulle ’n ruk later terugkeer, slaap ’n klein hondjie in kleinsus se popwaentjie. Dis een van Clara se kinders, word met ontsag gesê.

Nou dis ’n ander ding wat oom Herrie van Clara onthou. Sy het gereeld kleintjies gekry, en nie twee het omtrent ooit naastenby dieselfde gelyk nie. Weens Clara se reputasie was die kleintjies in groot aanvraag ongeag hoe hulle gelyk het.

Neem nou maar vir Breker, Omie se hond. Omie (meer bekend as die Colegiansslot, Boer Coetzer) was oom Nico se voorman. Breker het kort pootjies gehad, amper soos ’n worshond of basset (Franse dashond). Maar hy het wat hardloopvermoë betref, nie by die ander honde agtergebly nie. Hy kon net nie self agterop ’n bakkie spring nie. Dit was toe nie ’n probleem nie, want omie het destyds met ’n oop Jeep gery, en Breker het gemaklik by die lae dele ingekom, en agterop gaan sit.

Die vermoede was dat die brakkie wat die Herries gekry het, iewers bokserbloed ingehad het, en die dingetjie is terstond na Brolloks vernoem, na die kleine Herrie se eerste hond wat kleintyd die huurhuis se hekke oopgekry het en in die straat getrap is. Pa Jan het klein Brolloks langs die huis “geplant”, aldus die kleine Herrie.

Maar hoe groter die nuwe Brolloks geword het, hoe minder van pas was die naam. Die hond was slank, en het amper op ’n windhond getrek, en hy was vinnig. Pa Jan het hom Piesang begin noem, en dit was naderhand al naam waarop die hond reageer het.

Hy was ons kinders se beste maat. Skooltyd was vir hom bitter sleg, en hy het behoorlik lewe gekry as die kinders ná skool tuis kom. Hy het die huiswerk net so erg soos die kinders gehaat, want dit het speeltyd in beslag geneem.

En dan was dit ure se speel.

As daar veld toe gegaan is, was Piesang op sy gelukkigste. Nie lank nie, dan sou hy ’n haas opgejaag gekry het. Dit was iets vreesliks om te aanskou. Net soos Piesang sy bek oopmaak om die voortsnellende haas te gryp, sal die haas met sy stertjie aandui hy gaan regs draai. Maar dan swenk hy links. Dit het Piesang elke keer geflous.

Piesang is dan met ’n wye boog en siedend blaffend die veld in terwyl die haas weer ’n voorsprong opbou. Nie lank nie, dan word die proses herhaal. Oom Herrie dink nie Piesang het ooit ’n haas gevang gekry nie.

Ons kon Piesang nooit leer om ’n bal of stok te gaan haal en terug te bring nie. Ja, gooi die ding en Piesang maak oop om dit te gaan haal, maar met die terugkomslag sal hy so ’n ent weg gaan vassteek, en sy hele lyftaal sê as jy jou bal of stok wil terughê, kom haal dit. Dit gee ’n jaagtog af waar Piesang sy passies wat hy by die hase geleer het ten toon stel. Oor die grasperk, deur die roosbedding, onder die vrugtebome deur.

Ons leer toe vir Piesang dat boomtakke ook stokke is. Roer die windjie, en ’n tak wat hy springend kon bykom, roer, dan spring hy en gryp die tak. En hou. Naderhand was sy tande en tandvliese so sterk dat hy lang tye so aan ’n tak kon hang, en net af en toe ruk en knor. Nie lank nie, is al wat tak op die erf wat hy kon bykom, ontbas en morsdood. Maar hy het steeds bly hang, onder meer aan die bessieboom op die sypaadjie – ons het altyd gewonder hoekom verbygaande motors so gereeld stop en dié petalje aanskou. Was hulle dan niks gewoond nie?

Ná Piesang was die Herries lank hondeloos. Die bure, bejaarde mense, het egter ’n jong wit Duitse herdershondjie, Prins, gekry, en hy het ons kinders se speelmaat geword.

Prins het, soos die ander honde in die straat, karre gejaag. Eendag kom ’n driewiel-afleweringsvoertuigie die straat af, en Prins skraap dié vreemde gedoente half van voor af.

Doef! Daar sit ’n yslike duik in die voorkant neffens die enkelwiel. Prins tjank en hol by sy eintlike mense se erf in. Die man in die afleweringsvoertuig is woedend. Kyk net die duik! Ons trek net ons skouers op en beduie dis nie ons hond nie.

Die man loop nog ’n rukkie sulke klein sirkeltjies en raak allerhande onwelvoeglikhede kwyt, klim terug in die voertuigie, slaan die duik van binne met die hand uit en verkas – met Prins woedend agterna.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae