Só vermy jy ʼn ramp dié vakansie op die langpad

 motor_strand_virseker_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Beplan jy om ver te reis hierdie feesseisoen? Indien jy gewoonlik slegs ʼn kort afstand werk toe en terug ry, is die somervakansie-uittog waarskynlik jou verste reis van die jaar.

“Gedurende die vakansietyd is die paaie besonder gevaarlik en moet motoriste ekstra voorsorg tref,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Dit is dus noodsaaklik om, minstens twee weke voordat jy vertrek, ʼn omvattende inspeksie van jou voertuig uit te voer om moontlike gevare te identifiseer en so verdere skade te voorkom.”

Twilley sê dit sal jou genoeg tyd gee om enige probleme uit te stryk en seker te maak dat jou voertuig optimaal funksioneer – iets wat nie net jou veiligheid op die pad sal help verseker nie, maar jou ook geld sal spaar, al kos dit dalk nou ʼn stewige bedrag.

“Ja, jy kan sommige dinge op jou voertuig self nagaan,” voeg sy by, “maar dit word sterk aanbeveel dat jy jou motor na ʼn kenner neem vir ʼn meer gevorderde toets. Dinge soos verslyte laerringe, ʼn beskadigde stuurarm, ʼn verroeste montering of ʼn los skakel kan, indien dit nie herstel word nie, enige iets van ongerief tot ʼn ernstige ongeluk veroorsaak.”

Sou jy enige ongewone klanke of vibrasies vanaf die enjin, stuurkolom, ratkas, wiele, remme of enige ander stelsel opmerk, is dit absoluut noodsaaklik om dit deur ʼn gekwalifiseerde, hoogs aangeskrewe tegnikus te laat nagaan.

Jou oorsiglys moet die volgende insluit:

Ligte en elektriese stelsel:

  • Maak seker dat alle gloeilampe op jou voertuig in ʼn werkende toestand is om te verseker dat jy kan sien, gesien en gehoor kan word en jou bedoelings duidelik kan aandui.
  • Verseker dat hoofligte reg verstel is sodat hulle genoeg sigbaarheid op die pad bied, sonder om te hoog te skyn en so sigbaarheidsprobleme vir aankomende motoriste te veroorsaak.
  • Gaan alle instrumente na om seker te maak dat hulle die korrekte lesings van spoed, vloeistofvlakke ens. gee.
  • Maak seker dat alle beheerknoppe en skakelaars – soos dié vir ligte, ruitveërs, spieëltjies, ontwasemer ens. – behoorlik werk.

Ruite en ruitveërs:

  • Gaan alle ruite na om seker te maak dat dit in ʼn goeie toestand is en dat enige krake of happe herstel word.
  • ʼn Beskadigde windskerm belemmer nie alleen sigbaarheid nie, maar beperk ook die windskerm se vermoë om jou in slegte weersomstandighede en tydens ʼn ongeluk te beskerm.
  • Maak seker dat ruitveërs reg werk en elke slag skoon vee.
 Virseker_motor_breek_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wiele en bande:

  • Maak seker dat alle wiele stewig vas is.
  • Gaan die loopvlak van bande na. Die SA wetlike minimum is 1 mm-loopvlak, maar enige iets minder as 3 mm beperk die band se vermoë om effektief te funksioneer.
  • Maak ook seker dat bande eweredig afloop. Oneweredige afloop van bande mag dui op ʼn verslyte stuur- of veringskomponent, ʼn oor- of onderopgeblase band of swak wielbalansering/-belyning.
  • Sien toe dat jou voertuig toegerus is met ʼn spaarwiel wat in ʼn goeie toestand is, en dat jy die regte domkrag en ander gereedskap het om ʼn beskadigde wiel en band te vervang.

Remme:

  • Gaan jou voertuig se remvloeistof na en vul op indien nodig.
  • Gaan die handrem na en maak seker dat dit doeltreffend werk.
  • Maak seker dat alle remskywe, -dromme en -skoene in ʼn goeie toestand is, goed werk en eweredig afloop. Voer ʼn noodstop-toets uit om dubbel seker te maak.
  • Enige oneweredige slytasie, ongewone geluide of vibrasies vanuit die remstelsel moet ondersoek en herstel word.

Vering:

  • Sien toe dat jou voertuig se skokbrekers en ander veringstelsels die bande ferm teen die padoppervlak hou.
  • Indien jou voertuig se ritgehalte harder as gewoonlik is, die voertuig baie rol wanneer jy ʼn draai binnegaan of ʼn groter afstand nodig het om te stop, moet verslyte of beskadigde veringskomponente soos skokbrekers of stutte moontlik vervang word.
ATTACHMENT DETAILS battery_motor_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Battery:

  • Toets jou voertuig se battery om seker te maak dat dit die korrekte lading lewer en, in die geval van diensbare batterye, dat die batterywater tot op die regte vlak opgevul is.
  • Laat die alternator nagaan om seker te maak dat dit die battery gelaai hou.

Dryfbande en -kettings:

  • Maak seker dat alle dryfbande en -kettings wat aan die nok, alternator, waaier en ander komponente verbind is, in ʼn goeie toestand is. Bande en kettings wat breek kan enige iets van ʼn groot ongerief tot ernstige enjinskade veroorsaak.

Verkoelingstelsel:

  • Dis belangrik om seker te maak dat jou voertuig se verkoelingstelsel – veral die verkoeler en waterpomp – reg funksioneer.
  • Maak ook seker dat die verkoelerdop behoorlik seël en dat die verkoelingsvloeistof skoon en opgevul is.

Filters en vloeistowwe:

  • Om maksimum doeltreffendheid van jou voertuig te verseker, sien toe dat alle belangrike filters – olie-, lug- en brandstoffilters – skoon is en goed funksioneer.
  • Wanneer jy die oliefilter vervang, maak seker dat jy alle ou olie uit jou voertuig dreineer en vervang met nuwe olie wat ooreenstem met die vervaardiger se spesifikasies.
  • Maak seker dat alle vloeistowwe tot op die voorgeskrewe vlak opgevul is.
  • Gaan alle olie-, lug- en brandstofstelsels (insluitend pype) na vir lekplekke en herstel waar nodig voordat jy op reis vertrek.
  • Maak seker dat alle olie- en brandstofproppe deeglik vas is.
 uitlaatpyp_motor_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Uitlaatstelsel:

  • Gaan die uitlaatstelsel deeglik na vir enige lekplekke.
  • ʼn Beskadigde uitlaatstelsel sal nie alleen probleme met die verrigting en brandstofverbruik van jou voertuig veroorsaak nie, maar ook ʼn ernstige gesondheidsrisiko inhou.

Panele, monterings en bybehore:

  • Maak seker dat alle panele, monterings en bybehore – insluitend sleepstange en waens ens. wat daaraan vas is, in plek en behoorlik vas is. Dieselfde geld vir enige vrag wat die voertuig dalk mag dra.
  • Gaan alle knippe, hake en skarniere na om seker te maak dat dit behoorlik vas is en reg funksioneer.
  • Wees op die uitkyk vir enige skade of roes wat die voertuig struktureel kan verswak.
  • Sien toe dat jou voertuig nie oorlaai is nie.
 driehoek_motor_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Veiligheids- en waarskuwingstoerusting:

  • Gaan die sitplekgordels en hul knippies, sowel as die motor se lugsakverstelling na (in sommige voertuie kan sekere lugsakke afgeskakel word).
  • Maak seker dat jy minstens ʼn weerkaatsende driehoek of flitslig byderhand het om aankomende motoriste te waarsku wanneer jou motor onklaar geraak het.
  • Baie bestuurders maak slegs op hulle voertuie se noodligte staat en hou nie in gedagte dat dit dalk nie sigbaar sal wees onder sekere omstandighede nie, of, in die geval van ʼn elektriese fout/batterymoeilikheid, dalk geensins mag werk nie.

Versekering:

  • Sien toe dat jy voldoende motorversekering in plek het, en dat jy alle ondersteunings- en noodnommers byderhand het, ingeval iets onvoorsiens gebeur.

“Gaan die punte op hierdie oorsiglys deeglik na. Dit sal help om te verseker dat jy probleme op die vakansiepad vermy en dat jy lekker kan ontspan met die wete dat jou voertuig op sy beste en veiligste funksioneer,” sê Twilley.

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.