Bosveld in jou bloed

Bosveld (Foto: Marianne Styan)

Die Kaap het alles. Die berge, die see, wynplase, rustige leefstyl, noem dit maar op. Maar een ding het dit nie…

Die bosveld.

Ons bly nou al ʼn rukkie in die mooie Kaap maar my hart verlang nog gereeld terug na die bosveld, ten spyte van al die mooi om my.

Dus doen mens nou ekstra moeite om deesdae weer daardie bosveld-inspuiting te kan kry. My oupa sou spot deur vir ons te vra: “Hoekom gaan julle oorsee? Kon julle nie plek kry in die wildtuin nie?” Hy het geglo as jy nie voor die hek slaap nie, is jy te laat.

Ek was bevoorreg om in ʼn familie groot te word wat ten minste een keer ʼn jaar vir ʼn week of meer sou wildtuin toe gaan. Verder sou ons so gereeld moontlik die bosveld êrens gaan opsoek al was dit nie in die wildtuin nie.

Wanneer ons in die wildtuin is, is ons een van die eerste motors wat die kamp in die oggend sou verlaat en eers weer laatmiddag terugkeer net voor die hekke sluit vir die aand.

Maar nou bly ons in die Kaap en moet daar bietjie meer beplanning ingaan om weer te kan gaan herlaai in die bosveld. Só reël ons ʼn familiesaamtrek onlangs in Letaba-ruskamp. Die suidelike ruskampe is makliker en vinniger om te bereik en dus het ons vir die laaste paar jaar eerder daar gaan kuier, om ons soveel moontlik tyd in die wildtuin te gee.

Bosveld (Foto: Marianne Styan)

Letaba, wat bietjie meer noord lê, was egter die enigste kamp met genoeg oop slaapplekke om al 42 van ons te kon akkommodeer en dus het ons keuse daarop geval.

Ek was baie lanklaas tydens die laat herfs, vroeg winter tyd in hierdie omgewing met sy talle mopaniebome. En wat ʼn lieflike ervaring was dit nie!

Soos een toeris vir ʼn familielid gesê het: “We usually go to England or Germany to see these beautiful autumn colours, but now we will definitely make a detour to South Africa’s Busveld first.”

Amper soos iets uit ʼn skildery meng die koper, geel, lemmetjie- en olyfgroen kleure in die blare met mekaar om ʼn geheel prentjie te skep wat jou asem wegslaan.

Gooi nou ʼn olifant of ʼn paar rooibokke tussen die simfonie van kleure en jy bevind jou in ʼn onwerklike Utopie, ʼn tuin van Eden.

En so begin ek wonder wat maak mens so lief vir hierdie stowwerige maar onortodokse mooi plek? Hoekom wil ek terugkom hierna ten spyte van die see wat ʼn paar meter weg is van ons huis of die berg wat oor die stad troon?

Hoekom sukkel mens om hierdie verlange na totale stilte en sommer net veld, aan ʼn Kapenaar te verduidelik?

Dan besef ek dis in jou bloed. As jy nie met die bosveld grootgeword het nie, gaan hierdie verlange heel moontlik nooit jou hart laat terugverlang daarna met ʼn fisiese pyn nie.

Bosveld (Foto: Marianne Styan)

Dit gaan moeilik wees om vir ure in die veld rond te ry en net na die veld te kyk en te waardeer al sien mens niks meer as net ʼn paar rooibokke hier en daar nie.

Want dis eers as jy die bosveld in jou bloed het, dat jy besef die veld slaap nooit nie. Daar is altyd iets om te sien. Voëls, bome of selfs net die leefwêreld van ʼn goggatjie.

Die veld lewe in sy stilte, sonder enige harde lawaai…

Dis hier waar jou wekker die geroep van ʼn patrys is, jou eerste verkeersknoop se oorsaak ʼn lui familie leeus of ʼn moedswillige olifant en jou happy hour die “drinkgat-kroeg” by die naaste dam.

Hier maak dit nie saak dat daar nie opvangs op jou selfoon is nie en jou enigste TV die kampvuur is wat jou langer kan vasgenael hou as Game of Thrones.

Dis net hier wat jou eie battery so herlaai kan word, dat jy die moed kry om van enige maroelas wat die lewe na jou kant toe gooi die lekkerste Amarula-likeur te maak.

En wanneer jy dan wegry en jy vir die laaste rukkie die venster oophou om daardie bosveldreuk in te asem, hoop jy daardie herinnering aan die bekende reuk sal jou kan dra tot die volgende keer wat jy kan kom vir jou “bosveld-inspuiting”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Magic ·

Kom nou van die wildtuin af…… naweek voel soos ‘n maand. Stem só VOLKOME saam met jou. Kleinkinders noem dit Ouma se plaas…..

Henry ·

Ons woon reeds 24 jaar lank in Visvoetland, maar MOET elke winter vir ‘n paar maande loop asemskep en batterye herlaai in die regte bosveld. Die ene wat agter die Zoutpansberge tussen die kremetarte en mopani’s op die rooi sand van die Alldays omgewing te vinde is.

Dolfhout ·

Stem saam. As oud-Suidwester wat lank in die Kaap woon mis ek daardie dor savanna streek wat Afrika! uitskreeu.

Pensioenaris ·

As jy deur die ingangshek na die wildtuin gaan vergeet jy als wat jou pla en fokus net op wat jy sien….

Jan van Eeden ·

Mense sê ek is nou ‘n Kapenaar, maar ek reageer met ek is ‘n Bosvelder wat soms in die Kaap kom. Dis ‘n Bosveld ding wat nie almal verstaan nie. Dis veral die ongerepte dele waar jou hart tot rus kom.

Primaat ·

Marianne en ander kommentators,

Weet u, …….ons lééf hier in die Bosveld. Ons sou op geen ander plek kon oorleef nie. Die grootste “straf” is om somtyds te moet dorp toe gaan; soms eenmaal elke drie maande, as dit dan moét!
Net Sondae kom ons naby an die “dorp”, maar na die diens is dit: “Home James, and don’t spare the horses!”

Waghond ·

Nou pra’ jý!
Die bosveld het ‘n besonderse bekoring. ‘n Wegbreek in die bosveld bring jou nader aan die natuur, herlaai jou batterye en verras jou keer op keer.
Die Bosveldklong.

Bosveldblom ·

Ek en my gesin bly alreeds 18jaar op ‘n plaas in die bosveld in Nylstroom in Limpopo. Ons kom oorspronklik van Pretoria. My kinders leer só baie op die plaas in die bosveld. Die aande is heerlik om te groot vuur en die jakkalse se geroep, asook die visarend by die watergat. Stad sien my nooit weer nie. Hier lewe ons.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.