“Die ‘vratte’ van die samelewing”

vratte-01

Foto: Verskaf.

Ek was daardie oggend laat. ʼn Oggend wat ek nie laat moes wees nie, want volgens die Chinese kan jy maar dronk word, vloek, skel en jou vrou slaan, maar jy mag tog net nie laat wees nie.

Ek het, soos elke oggend, my selfoonalarm vir halfses gestel, maar ʼn aantreklike Fransman het in my drome opgedaag en net voordat daardie Franse soen op my lippe geplant kon word, het ek wakker geskrik.  Dit was 07:40 en ek moes die skoolbus, wat ons aanry na ʼn ander stad, sowat ʼn uur se ry van Tsjengdoe, om 08:00 haal.

Ek, Tom, ʼn bloedrooi Skot  en Themo, ʼn Meksikaanse jong man, wie se wange nog deur puberteitsaknee bevlek word, het nuwe titels gekry: rondreisende onderwysers.

Kortliks besoek ons skole in verskillende stede en bied kursussse soos “International Understanding” en ACT IT OUT aan. ACT IT OUT is ʼn dramatiese, praktiese manier van klasaanbieding. ʼn Storie (so vereenvoudig dat ʼn tweejarige Chinees dit kan verstaan) word dramaties vir die klas voorgelees. Daarna moet die kinders toneel speel. Vir ʼn volle veertig minute: “Where is my hamburger? I think I am going to cry. Who ate my hamburger?”  “Bla-bla en bla,” het die uitgesproke Tom ACT IT OUT  aan my verduidelik.

Cathy, ons Chinese baas, is ʼn regte haai, wat daarvan hou om Westerlinge vir ontbyt te   eet en toe ek 8:15 by die Global Centre, wat so vyftien minute per trein van my blyplek is, het Cathy my omtrent verslind. Ek dink sy het my sommer in Chinees gevloek. “Cathy, ons gaan nie laat wees vir ons klasse nie. Dit begin eers om 10:00,” het ek probeer verduidelik.

Maar Cathy het geraas en geblaas. Ek het een van die sewe Chinese doodsondes gepleeg; ek was laat.

Tom en Themo het soos verskrikte Chinese rotte in die bus gesit – en dit is ʼn gesig, want in China word rotte vinniger deur die katte verslind as wat hulle aanteel.

Ek het rustig na haar geblaas geluister en toe glimlaggend in Afrikaans gevloek. Toe was sy stil – sy het seker die betekenis gesnap.

Chongzou is ʼn plattelandse stad. Daar bly net 750 000 mense, het een van ons Chinese hulp-onderwysers neusoptrekkerig verduidelik.  ʼn Klein stadjie en die mense is agterlik….

Nie agterlik nie, maar vriendelik, het ek gedink toe ons by die eerte laerskool stop. Die Chinese onderwysers hou nie van ons Westerlinge nie. Hulle word maar sowat 4 000 yuan (R8 000) per maand betaal en ons kom-en-gaan soos wat ons wil, teen vet salarisse…

By die eerste skool het ek ʼn beker regte boeretroos en Ouma-beskuit gekry. Luna, ʼn Chinese onderwyseres, se suster was in Suid-Afrika vir sake en het verlief geraak op Ouma-beskuit en boeretroos.  Toe Luna hoor ek is ʼn Suid-Afrikaner, het sy vir my ʼn pak Ouma-beskuit gebring. En daar – onder die kommunstiese vlag – in die personeelkamer, doop ek beskuit in my koffie…

Die Chinese skole het nie klokke wat in jou ore skel om ʼn nuwe periode aan te kondig nie. Nee, rustige musiek speel oor die luidsprekers.  “Kom, Luna trek my op, dit is nou oefenperiode.”

1 500 kinders loop soos trotse soldate na die sportveld en begin met Tai Chi en liggaamsoefening. ʼn Paar kleiner kinders is hou nie by die ritme nie, maar die res van die skool beweeg soos robotte. Op-en-af. ʼn Onderwyser se stem dril bevele oor die luidspreker.

Die laerskoolkinders se klasse begin agtuur soggens. Teen vieruur is hulle tuis. Hulle is nog gelukkig, want die middel- en hoërskole se skooldag begin om seweuur en hulle is eers saans teen negeuur tuis.

“Hier is so baie mense in China, verduidelik een van die onderwysers, die kinders word van kleinsaf met skoolwerk oorlaai. Teen die ouderdom van vyf moet hulle al kan lees en skryf.  Wiskunde is die belangrikse vak in China en as jy dit nie kan doen nie, is jy ʼn vrat. Jy word verwerp en uit die samelewing geskop. ʼn Skandvlek op jou familienaam.

“Kan jy wiskunde doen?” vra die skoolhoof, ʼn streng dame wat nogal soos Juffrou Rottenmeier lyk. “Ja, lieg ek sonder om te blik of te bloos, ek is gekeur om medies te studeer…..” en die Jan  Spies-storie wat uit my mond gekom het, sou selfs Tolla van der Merwe nie geglo het nie. Ek wil tog net nie ʼn vrat wees nie ….

Na twee periodes – tot afgevaardiges van die regering het my klasse bygewoon – is dit tyd vir middagete.  Ons ry in ʼn stoet blink regeringsmotors met rooi ligte. Ons kry ʼn private eetsaal. “Gedra jou, “ fluister Sansan, een van my kollegas, wat my teen die tyd al goed ken. “Die regering betaal vir die kursus. Hulle hou van jou, maar asseblief, moenie krities wees nie. Moenie jou eetstokkies regop in jou rys laat staan nie. Moenie met jou eetstokkies in jou hand beduie nie.”

Reëls, wat ek natuurlik vergeet het toe ek eers op dreef kom…. ʼn Stukkie vark het op die een of ander minister se skoot beland. Die skoolhoof het soja-melk op haar skoot gekry… “You are such a disaster,” het Sansan gelag toe die lang ete – die Chinese eet vir twee ure aanmekaar – verby is. “Luckily, they still like you… actually, you are nominated as one of the foreign teachers of the year…

Hu? Is al wat ek kon uitkry.

Die middagskool is een van China se vratskole – ʼn spesiale skool of vocational school, soos wat die Chinese na die vratskole verwys.  Die Engelse onderwyser het ons vriendelik verwelkom, maar reguit gewaarsku: “Die kinders is dom. Ons haat hulle. Ons slaan hulle gereeld, maar ons kan nie intelligensie in hulle in slaan nie. Hulle word hier opgelei om in winkels en restaurante te werk.

“Om die strate skoon te hou en veiligheidswagte te word. Hulle is die vratte. Die meeste van hul families kry skaam vir die kinders…”

Skielik verstaan ek: “Is dit die rede waarom daar so baie Chinese restaurante en winkels in Suid-Afrika is? Die vratkinders wat ʼn bestaan buite hul eie land probeer maak?”

ʼn Lang stilte…. “Ja, hul gesinne help hulle om ondernemings buite China te begin..”

Die “vratkinders” deel drukkies uit toe hulle my sien… Hulle is nie vir my vratte nie…

Toe die klas verby is se ek hard vir die onderwyser: “Ek is ook ʼn vrat.  Ek het nie in wiskunde of wetenskap presteer nie. Ek is ook dom. ʼn Skandvlek op my familienaam.”

Daardie aand, van die treinstasie op pad na my huis toe, het ʼn jong man arrogant voor ʼn straatveër gestaan. Sy stompie met sy Armani-stewelhak doodgedruk.  Die jong vrou het haar oë neergeslaan en die stompie gedweë opgetel, weggeskuifel na die volgende stompie. Nog een en nog een. Die doel van haar bestaan. Haar sonde: sy het nie in wiskunde presteer nie.

By my kompleks het die sekuriteitswag gesalueer toe hy my sien inkom. Ek het voor hom gaan staan. Op aandag en hom met ʼn saluut begroet: “In my oë is jy nie ʼn vrat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Vixie ·

Ek het dit baie geniet om die artikel te lees. Heerlike skerp humor wat ‘n welkome glimlag op my gesig geplaas het. Baie dankie!

Denise ·

Puik leesstof ai tog die Chinese is ook maar snaakse mense!!!!

anneke ·

Hoe flippen slim-dom kan die Chinese tog wees. Rêrig??????
Wiskunde-slim is mos nie die enigste slim wat daar is nie. Musiek-slim, Emosioneel-slim, Wetkenskap-slim.

Ek haaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaat eintlik die woord slim. Dis ‘n dooie, gestigmateerder (indien daar ooit so ‘n woord bestaan), kamma-kamma goed-voel woord, wat mense laat glo hulle is iets wat hulle nie eintlik is nie.

Wat het geword van intelligent, begaaft, kreatief? Maar nou is jy dom as jy nie in die ‘slim’ vormpie pas nie., aaaaarrrrggggg!!!!

Baie dankie Yolanda ek geniet jou stories baie. Probeer asb die kersparytjie van die Italiaanse Chinees bywoon, en dan kom vertel jy ons alles!!!!

Gerd Lourens ·

Kom ons spel – SAMELEWING.

MM – ‘n Mens moet skerp wees in wiskunde om te kan spel.

Landi Malan ·

Dagsê Gerd

Baie dankie vir jou terugvoer en dat jy ons daarop gewys het. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.