Só beskerm die wet jou teen misleidende advertensies

aankope-aanlyn-internet

Foto: Negative Space/Pexels.com

Verbruikers kla dikwels dat advertensies onwaar is of dat winkels goedere adverteer wat nie beskikbaar is nie. Gewoonlik laat mense die saak maar daar, maar verbruikers kan hulself en alle ander verbruikers beter beskerm indien hulle hul regte volgens die Wet op Verbruikersbeskerming uitoefen en daaroor kla. Ina Opperman verduidelik verbruikers se regte op billike en verantwoordelike bemarking.

Deel E van die Wet op Verbruikersbeskerming maak dit duidelik wat verbruikers se regte op billike en verantwoordelike bemarking is, deur in artikels 29 tot 38 duidelik te omskryf wat winkels kan doen om hulself en hul produkte te bemark en wat verbode gedrag is.

Algemene standaarde vir bemarking van goedere of dienste

Artikel 29 bepaal die algemene standaarde vir die bemarking van goedere of dienste. ’n Produsent, invoerder, verspreider, kleinhandelaar of diensverskaffer mag nie goedere of dienste op ’n valse of misleidende manier bemark nie en ook nie verbruikers mislei of bedrieg of oneerlik wees oor die aard, eienskappe, voordele of gebruike van goedere of dienste nie, of hoe en op watter voorwaardes dit verskaf kan word nie.

Die verskaffer mag ook nie die verbruiker mislei oor die prys waarteen die goedere verskaf kan word nie. Dit sluit in die verhouding van die prys met ’n vorige prys of mededinger se prys vir vergelykbare of soortgelyke goedere of dienste, die borg van enige geleentheid en enige ander wesenlike aspek van die goedere of dienste.

Indien ʼn rugbybal byvoorbeeld bemark word dat dit deur die Springbokke gebruik word en dit nie die geval is nie, is dit ʼn wederregtelike voorstelling van goedkeuring en borgskap. Dieselfde is waar indien iets geadverteer word dat elke huisvrou dit byvoorbeeld gebruik. Hierdie stelling is net waar indien elke huisvrou die produk gekry het en nie betaal is om dit te gebruik nie. Jellie kan byvoorbeeld ook nie geadverteer word as vetvry nie, want jellie bevat nooit vet nie.

Reg op billike en eerlike verhandeling

Deel F van die Wet neem die verbruiker se regte in verband met bemarking nog verder deur verbruikers se reg op billike en eerlike verhandeling vas te stel. Artikel 41 hanteer valse, misleidende of bedrieglike voorstellings en bepaal dat winkels wat goedere of dienste bemark, nie deur hul woorde of gedrag, direk of indirek ’n valse, misleidende of bedrieglike voorstelling oor ’n wesenlike feit aan ’n verbruiker mag gee nie.

Hulle mag ook nie oordryf, insinueer of dubbelsinnig wees oor ʼn wesenlike feit nie en mag ook nie versuim om ’n wesenlike feit bekend te maak indien dit op bedrieglikheid neerkom nie. Dit is ook die winkel se plig om ’n klaarblyklike wanbegrip by die verbruiker reg te stel as dit kan lei tot ’n valse, misleidende of bedrieglike voorstelling. Winkels mag ook nie iemand anders toelaat of beveel om dit te doen nie.

Die winkel se verteenwoordigers mag ook nie valslik voorgee dat die produk ’n borgskap, goedkeuring of verbintenis het as dit nie waar is nie. Hulle mag ook nie valslik voorgee dat produkte of dienste bestanddele, prestasiekenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte, borgskap of goedkeuring het wat dit nie het nie of van ’n bepaalde standaard, gehalte, graad, styl of model is as dit nie die geval is nie.

Opgeknapte, gebruikte of teruggeneemde produkte mag ook nie as nuut verkoop word nie. Grond of ander onroerende eiendom mag ook nie bemark word dat dit eienskappe het wat dit nie het nie, dat dit wettig gebruik kan word vir ’n doel wat onwettig of onuitvoerbaar is of naby geriewe is wat dit nie het nie, of wat nie beskikbaar of nabygeleë is nie.

Produkte mag ook nie bemark word met misleidende stellings oor die nodige diens-, onderhouds- of herstelgeriewe of onderdele wat geredelik binne of vir ’n redelike tydperk beskikbaar is nie. Misleidende stellings oor ’n diens, onderdeel, vervanging, onderhoud of herstelwerk, spesifieke prysvoordeel of heffing mag ook nie gemaak word nie.

Verteenwoordigers mag ook nie voorgee dat hulle magtiging het om ’n ooreenkoms te beding of te sluit nie en mag ook nie voorgee dat enige regte of regs-remediese verpligtinge van ’n verbruiker nie geraak word nie of dat ’n uitnodiging of kommunikasie met die verbruiker vir ’n bepaalde doel is nie. Beloftes van afslag of geskenke vir verbruikers wat help om klante te werf, is ook nie toelaatbaar nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor misleidende advertensies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae