Gedagte vir die dag: Die Gees van Waarheid

water-brug-boot-stiltetyd-stocksnap.jpg

Foto: StockSnap/pixabay.com

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” (Johannes 16:13)

Iets waaroor ek al baie gewonder het: Ons weet dat God vir ons net die beste wil hê en dat Hy net goed vir ons beplan en nie sleg nie. Tog, wanneer ons die stem van die Heilige Gees in ons binneste hoor, laat ons nie altyd daardie stem toe om ons te lei nie.

Dit is amper asof ons ʼn vrees het, daardie “wat as” wat vastrapplek kom kry in ons hart. Ironies is daardie “wat as” presies die teenoorgestelde van geloof, hoop, sekerheid. Net soos vrees presies in stryd is met liefde en twyfel teenoor waarheid staan.

Daar is geen twyfel in God se waarheid nie. Hy is die “Ek is”. Uit Hom kan geen leuen kom nie. Hy beloof in sy Woord dat Hy WEET wat Hy vir ons beplan.

Neem vandag daardie “wat as” en gee dit vir die Here in ruil vir sy “Ek weet” en begin om waarheid en lewe oor jouself, jou verhoudinge, jou gesin, jou gesondheid en jou besigheid te profeteer.

Leef so in voeling met die Heilige Gees dat jy Hom kan voel soos God se asem op jou wang. Wanneer jy sy stem hoor, gehoorsaam dit sonder vraag, sonder twyfel, net met vertroue in God se liefde en sy plan vir jou lewe. Glo dit en volg dit.

Vrees sal jou altyd in ʼn teenoorgestelde rigting as God se waarheid, SY gedagtes en drome aangaande jou neem. Laat die Heilige Gees, die Gees van die waarheid jou in God se waarheid lei. Daar is ʼn innerlike krag, ʼn onbeweegbaarheid, wat nie in woorde omskryf kan word nie, wanneer jy jouself totaal en al oorgee aan die Here.

Dit verg baie geloof, maar dit sal jou lewe verander op wyses wat jy nie in jou wildste drome kon dink moontlik is nie.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.