Gedagte vir die dag: Die Here ken jou hart

Foto: notonthehighstreet.com

Foto: notonthehighstreet.com

Psalm 139:1,2 – Here, U kyk of ek eerlik is en vertrou kan word. U weet wat gaan hier binne-in my aan. Ek kan niks wat ek doen, vir U wegsteek nie. Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees.

Dink ʼn bietjie wie is die mense wat jou die heel beste ken. Dink ook sommer aan mense wat jy baie goed ken (begin by jou gesin en vriendekring). Weet hulle alles van jou en jy alles van hulle? Dit is so maklik om ʼn geheim of twee te hê waarvan niemand weet en wat jy vir niemand gaan vertel nie. So, verseker ken niemand jou 100% nie en ook andersom: Jy ken niemand anders 100% nie. Ja, daar is sekere tye wanneer dit met jou swaar en moeilik gaan en jy ander mense met ʼn glimlag sal groet en dit vir hulle sal lyk of dit eintlik met jou baie goed gaan. Dis vir ander mense net so maklik om ʼn masker op te sit en te maak of alles in hulle lewe in orde is. Daar is egter Een wat alles van jou weet. Hy ken jou hart en sien jou emosies. Hy is die Een wat dit sien, alles weet en ook verstaan. Jy kan altyd met die grootste eerlikheid en vrymoedigheid na God draai en jou hart voor Hom uitstort. Hy ken jou deur en deur. Hy weet alles wat jy dink en voel. Doen moeite om God te vertrou met wat in jou hart aangaan. Hy weet dit in elk geval alles. Stort jou hart voor Hom uit en kyk wat gebeur. Hy hoor. Hy luister met deernis. Praat gerus met God oor dit wat jy baie moeilik met mense wil deel.

ʼn Russiese ruimtevaarder Joeri Gagarin het na die eerste Russiese ruimtevaart verklaar dat hy nie Christene se God gesien het nie. Karl Barth het geantwoord dat Christene nie paniekerig moet raak nie en net Psalm 139 moet lees.

Gebed: Here, dankie dat U alles van my weet. Dankie dat U my hart en emosies sien en verstaan. Dankie dat ek eerlik my hart voor U kan uitstort.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.