Gedagte vir die dag: Moedig mekaar aan

Eksodus 20:8-11:
Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie …… Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Die rusdag behoort anders ingeklee te word as die ander ses. Anders versteur ons die ritme. Maar dis juis oor die hóé wat christene onderling verskil. Sommige is baie rigoristies en wetties oor wat mag en nie mag nie. Ander het weer ʼn baie laissez faire houding dat alles aanvaarbaar is.

Miskien is daar iets in die siening opgesluit dat dit nie gaan oor wat mag en wat nie, maar eerder watter moontlikhede dié dag bied. Gedurende ’n gewone werkweek is daar soveel dinge en mense wat ons aandag verg dat ons baie goed afskeep: ons eie geestelike groei en ontwikkeling, ons verantwoordelikheid om liefde teenoor ons naaste te wys, om ruimte te skep vir ons eie gesinne en families. Kortom, om weer asem te skep en batterye te laai.

Soms moet ons definitiewe keuses maak. Soos die persoon wat geworstel het of hy eerder by die viswaters moet sit en kerk toe verlang, of in die kerk en viswaters toe verlang. Ons kry so min geleentheid om met (G)geesgenote skouers te skuur en hande te vat. Daarom is Hebreërs se oproep nie so onvanpas nie: Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly .. nie..(Hebr 10:25). Sulke geleenthede behoort weer iets in ons wakker te maak dat ons in die voetspore van Jesus kan volg en ander gaan bedien. Want kerk is nie om bedien te word nie, maar om toegerus te word om die Here se genade te gaan uitdeel met besoeke, oproepe, SMS’e, e-posse.
Jesus het op ʼn keer gesê: Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie. Kom ons rig dié dag so in dat sy koninkryk gebou word en medegelowiges gedien word. En kom ons vier dit sonder om mekaar te (ver)oordeel oor dit waaroor ons verskil.

Gebed: Here, Jesus, help my om, soos U, ander te bedien met u genade. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Hendrik Smith ·

Nou wat nou van ons wat skofte werk? Ek werk 4 Sondae en dan 4 weer af. Is dit sonde of werksomstandighede?

InaT ·

Die sabbat HOEF nie ‘n Sondag te wees nie. Ek het in ‘n kerk kantoor gewerk, en HALLO Sondag was ons WERKdag. Daarom het ons Maandag af gevat. Die beginsel is op een dag in 7 af te vat. Bybel sê nie werk Maandag tot Saterdag en rus Sondag nie. Dit sê werk 6 dae, en rus op die 7de.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.