Gedagte vir die dag: Vernuut tot egte aanbidding

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

“Daarop het Samuel geantwoord: ‘Is daar vir die Here vreugde in brandoffers en maaltydoffers, soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as maaltydoffers, om te luister beter as die vet van ramme.” (1 Sameul 15:22).

Fokusgedeelte
1 Sameul 15:12-23

Oordenking
Samuel lê hier ʼn sonde waaraan ons ons almal maklik skuldig kan maak, bloot. Saul het opdrag van die Here gekry om Amalek, ʼn ou vyand van Israel, met die banvloek te tref. Hy besluit egter om die koning van Amalek, Agag, te laat leef om met hom te kan spog. Hy laat ook toe dat die beste vee gespaar word en slegs die slegtes doodgemaak word. Dan probeer hy sy besluite regverdig deur voor te gee dat die buit as offer vir die Here bedoel is.

Samuel maak van die verskonings korte mette! Hy sê vir Saul: “Gehoorsaamheid is beter as slagoffer en om te luister beter as die vet van ramme!” Samuel stel die allerbeste wat geoffer kan word, as gehoorsaamheid voor. Saul se hart was nie in sy opdrag nie en ook nie in sy verhouding tot die Here nie. Hy pleeg vormgodsdiens. Soos Samuel sê: Eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Hy maak sy eie god.

Daarom moet ons sorg dat ons hart in ons aanbidding is. As ons Bybel lees, moet ons weet dat ons met die lewende God in gesprek tree. Dink daaraan dat jy met jou gebed in die heiligheid van die Here ingaan. Laat elke erediens vir jou ʼn egte en opregte omgang wees met Hom wat jou graag wil ontmoet. Laat jou hele lewe ʼn lewende getuienis wees dat Jesus Christus jou ʼn nuwe mens gemaak het sodat jy kan hoor en kan luister, nie net met jou ore nie — met jou hart ook!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.