Sadrag, Mesag en Abednego – die vierde vriend

Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?” En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!” Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n hemelwese!” Daniel 3:24-25

Wanneer Nebukadnesar ‘n vierde persoon in die vuur sien, word ons daaraan herinner dat God self deur dit alles die vriende se metgesel was. Dit is God wat hulle uit die brandende oond red. Maar daar is meer. Hierdie drie mans deel nie net ‘n hegte vriendskap nie, maar hulle is deel van God se verbond. Hulle is sy kinders wat ‘n diep verhouding van vertroue in Hom en in mekaar beleef. Hulle geloof in en toewyding aan God en aan hulle vriendskap gee aan hulle die krag om ongelooflike druk te weerstaan om maar net saam met die stroom te gaan.

Baie van ons is gelukkig om Christenvriende te hê om raad te gee, ons te ondersteun of te bemoedig. En selfs al is ons nie so bevoorreg nie, of miskien woon ons vriende ver, het ons steeds die beste Vriend van almal – Jesus Christus. Ons kan enige tyd van die dag of nag bid, 24/7, en ons kan Hom deur die Bybel beter leer ken. Daar is egter diegene wat nie hierdie voorreg het nie. Daar is duisende mans en vroue in Suid-Afrikaanse tronke wat miskien voel dat hulle in ‘n “brandende oond” is en nie weet waar om raad te vra nie. Die Bybelgenootskap het ‘n projek, Bybels vir gevanenes waardeur Bybels gratis beskikbaar gestel word aan mense vir wie dit nie moontlik is om ‘n eie Bybel te bekom nie. Miskien wil jy dit oorweeg om, as ‘n gebaar van vriendskap, ‘n bydrae tot hierdie projek te maak. Jou bydrae kan iemand help om die Woord van God te ontvang, en deur dit, ‘n ware Vriend te vind.

Gebed: Dankie Here dat watter “vuur” ook al ek my vandag in mag bevind, U is by my, U beskerm my en U gebruik my tot u eer. Amen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.