Terroriste-aanval lei winkeleienaar na Jesus

Verlatenheid heers in die straat waar Falit* en sy vriende aangeval is, met byna geen mense in sig nie.

Die leë strate van die sentrale Al Wousta-distrik in Qamishli, ʼn stad in die verre noordooste van Sirië, skep ʼn somber en verlate prentjie vir besoekers. Die inwoners van dié stad in die oorloggeteisterde Sirië is vreesbevange om in die strate te verskyn ná ʼn aanval deur drie terroriste van die self-geproklameerde Islamitiese Staat (ISIS).

Die verhaal van Falit*, ʼn Christenman wat ʼn selfoonwinkel in hierdie gebied gehad het en die terroriste-aanval wonderbaarlik oorleef het, is ʼn bewys van die wonderbaarlike krag van gebed en hoe die Here moeilike en traumatiese ervarings kan gebruik om mense na Hom te lei.

Falit, wat onlangs die pa van ʼn babadogtertjie geword het, sukkel steeds om die trauma van die aanval te verwerk. “Hoewel ek ongedeerd daarvan afgekom het, kan ek die traumatiese ervaring nie uit my gedagtes kry nie,” sê hy.

Krag van gebed

Verlatenheid heers in die straat waar Falit* en sy vriende aangeval is, met byna geen mense in sig nie.

Falit en ʼn groot groep vriende het rustig voor sy winkel gesit toe drie terroriste onverwags op hulle begin skiet en handgranate gegooi het. Almal in die groep, behalwe Falit, het seergekry of met hul lewens geboet. Nege van sy vriende is ernstig beseer en drie ander is dood.

“Toe hulle begin skiet, het ek plat op die grond gaan lê en dwarsdeur die aanval in hierdie posisie gebly terwyl ek aanhoudend gebid het. Dit het gevoel of ek deel van ʼn aksiefliek was. Ek was vreesbevange en het gedink ek gaan doodgaan. Ek het egter nie vrede in my gemoed gehad nie, want ek het aan my sondes gedink en besef hoe sleg ek geleef het.

“Ek het begin om oor en oor te bid. Ek het in trane aanhou bid en vir Jesus gevra om my ʼn nuwe lewe te gee – ʼn lewe as sy dienaar. Terwyl geweld om my gewoed het, het ek my lewe vir die Here gegee. Dit het alles in die eerste tien minute van die aanval gebeur,” vertel hy.

Genadiglik het lede van die Koerdiese en Siriese weermag na sowat 20 minute opgedaag en die aanvallers in hul spore gestuit. Falit het een van sy swaar gewonde vriende op sy rug na veiligheid gedra en hy is na die hospitaal geneem vir behandeling.

Waarde van slegte ervarings

Falit*, wat sy getuienis oor sy oorlewing van ʼn terroriste-aanval gedeel het. Sy identiteit word weens sekuriteitsredes geheim gehou.

Falit se winkel is so erg beskadig dat hy dit nie weer kon heropen nie. Hy het daarna verskeie maande vir die kerk gewerk, waar hy betrokke was by noodleniging aan mense wat deur die Siriese krisis geraak is. Hy het later met behulp van Geopende Deure-vennote ʼn ander perseel gehuur en sy winkel weer geopen.

Hy verduidelik hoe die terroriste-aanval hom gehelp het om by die Here uit te kom: “Die aanval het aan my gewys dat God slegte gebeurtenisse en uitdagings gebruik om mense na Hom toe te bring. Ek het besef hoe belangrik gebed is en dat dit die krag het om ʼn slegte situasie ten goede te laat meewerk.”

Alhoewel hy nog deur die trauma werk, getuig Falit: “Ek hou egter aan my geloof vas en weet dat die Here deurentyd by my is.”

Oorlog woed voort

Die straataansig in Qamishli, waar baie strate versper word om nog terroriste-aanvalle te voorkom.

Volgens Falit is die oorlog in die oorloggeteisterde Sirië nog ver van verby. “Aanvalle soos die een wat ek deurgemaak het, gebeur op ʼn daaglikse basis. Dit is die realiteit wat Christene in Sirië elke dag moet verduur. Ek bid elke dag wanneer ek in die strate loop. Ek vra die Here om genade vir ons land te hê en die oorlog te stop. Ek hou aan hoop op vrede danksy my geloof in God as my Verlosser,” sê hy.

Geopende Deure is betrokke in Sirië met hulp en bystand, om Christene te herinner dat hulle nooit alleen is nie. Jy kan met jou gebede en ondersteuning help om ʼn verskil te maak in die lewens van ons broers en susters in Sirië en ander lande waar Christene aan ernstige vervolging blootgestel word.

Sluit vandag by Geopende Deure aan in gebed vir ons vervolgde familie. Klik hier om jou gratis “Beroep jou op die Here”-gebedsgids af te laai en so jou gebedslewe te versterk en saam te bid vir vervolgde Christene om die wêreld.

*Skuilnaam gebruik weens sekuriteitsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.