Die (ge)val van Hansie se tande

Hansie se valstande. (Foto verskaf)

Het jy al ooit ʼn stel valstande in ʼn museum opgemerk? Nie die kakebeen van ʼn reusekrokodil of die fossiel van ʼn prehistoriese dier nie, maar ʼn doodgewone kunsgebit van ʼn man wat dit jare gelede verloor het. Wel, dit is een van die vreemde en wonderlike ontdekkings wat ek onlangs op Prins Albert gemaak het.

ʼn Geleentheid soos min

Op my verjaarsdag ry ons vol afwagting by Prins Albert in. Ek het vooraf navraag gedoen oor al die besienswaardighede, en ek mik dadelik na die plaaslike Fransie Pienaar-museum. Dis die Donderdagmiddag voor Paasnaweek, maar ek voorsien nie probleme met my voorgenome besoek nie.

By die deur gekom, sien ek die museum is elke dag tot 16:00 oop, en dis immers nou eers 14:00, maar die deur is gesluit. Ek trap vir ʼn rukkie besluiteloos rond, klop ʼn paar keer aan die deur, maar sonder antwoord. Eindelik bel ek die nommer wat op die kennisgewingbord is. Wanneer gaan ek tog weer in Prins Albert kom, ek moet alles probeer!

Michelle antwoord die telefoon vriendelik en verduidelik aan my dat die museum vroeg gesluit het danksy Paasnaweek wat voorlê. Ek is baie spyt daaroor, en ek dink sy hoor dit aan my stem, want tien minute later bel sy terug – as ek 15:00 daar kan wees, sal sy spesiaal vir my oopsluit. Ek stem kinderlik opgewonde in om stiptelik daar te wees, gesin in tou. So kry ons tog die kans om deur die vertrekke van Prins Albert se verlede te wandel – ek sal Michelle ewig dankbaar wees.

ʼn Massiewe museumversameling

Die Fransie Pienaar-museum beeld die kulturele en omgewingsgeskiedenis van Prins Albert uit. Dit is ʼn huismuseum met ʼn groot versameling meubels, huisware, skilderye en foto’s wat die dorp se 262 jaar gedenk. Van fossiele wat in die Karoo gevind is tot ʼn uitstalling oor die kortstondige goudstormloop van die laat 1800’s en alles tussenin kan jy hiér vind.

Die Fransie Pienaar-museum. (Foto verskaf)

Hoewel die museum goed uitgelê is en jy met pyle deur die vertrekke gelei word, oorrompel die inhoud my oombliklik. Die inligting en uitstallings oor groot gebeure soos die Steentydperk is een ding, maar wat my werklik fassineer is die sogenaamde “klein geskiedenis” wat tussen die groot gebeure skuil – die stories van plaaslike inwoners en hul doen en late. ʼn Ou tandartsstoel wat aan ʼn gerespekteerde tandarts op die dorp behoort het. Gereedskap wat tydens die bou van die Swartbergpas gebruik is. Foto’s van die dorp se rugbyspanne oor die jare heen. Hansie Odendaal se valstande.

Wag. Wat? Daar is sowaar ʼn stel valstande in ʼn uitstalkas. Ek giggel hardop, roep die kinders nader en vra vir Michelle daaroor uit. Sy vertel die verhaal.

Hier rus Hansie se tande

Wyle Hansie Odendaal het in 1978 op uitnodiging van die dorp se “vlieënde dokter”, dr. Manie Coetzee, in sy dubbelvlerk-Tiger Moth oor die dorp gevlieg. Olivier het dikwels pasiënte met sy vliegtuig na Kaapstad en George geneem en ook siekes in Gamkaskloof besoek.

Bo in die lug het die dokter ʼn tolbeweging uitgevoer, wat Odendaal se maag glo ook laat draai het. Hy was verplig om oor die kant uit te leun, waar sy valstande toe per ongeluk saam met sy ontbyt na onder gewaai en iewers op die wye Karoo-vlaktes beland het.

Die hele dorp het die petalje destyds terdeë geniet, maar niemand het aangebied om na Odendaal se verlore kunstande te gaan soek nie. Die storie het op 17 Februarie 1978 selfs die voorblad van Die Burger gehaal.

Prins Albert se biblioteek. (Foto verskaf)

Die plaaslike hoteleienaar en boer Fred Badenhorst lees op ʼn dag 27 jaar later oor die verlore tande toe daar ʼn klokkie by hom lui. Hy onthou toe hoe hy ʼn paar jaar gelede op sy plaas buite die dorp in die Prins Albert-vallei gestap het toe hy skielik die bostel-kunstande voor hom sien lê het. Dit was vir hom die grootste raaisel, maar hy het dit opgetel en gebêre.

Odendaal was teen daardie tyd, in 2005, reeds oorlede, maar ʼn ou vriend van hom herken toe sowaar die tande. Dit moes glo behoorlik geskrop word om as vertoonstuk in die Fransie Pienaar-museum bewaar te word.

Ek verkneukel my in die kostelike storie. Dís nou hoe ʼn omgewing en sy mense se verhale bewaar word.

Wie was Fransie Pienaar?

Fransie Pienaar (Foto: www.princealbert.org.za)

Die museum is na Fransie Pienaar vernoem omdat sy die eerste versameling begin het en sodoende ʼn belangrike rol in die erfenisbewaring van die dorp gespeel het. Fransie is in 1897 op Prins Albert gebore en het die dorp net verlaat om musiek in Kaapstad te gaan studeer. Met haar terugkeer is sy met die boer Giddy Pienaar getroud en het sy haar versameling begin.

Dit het so gegroei dat sy naderhand ʼn hele vertrek in haar plaashuis daaraan moes afstaan. Naderhand was daar genoeg versamelaarstukke om die hele kerksaal mee te vul, en toe dít ook stampvol was, het die dorpsraad ingestem om ʼn huis in Kerkstraat aan haar te leen. Met die opening van hierdie eerste museum het sy al die inhoud aan die inwoners van Prins Albert geskenk.

Sedertdien het die versameling nog uitgebrei en eindelik geskuif na die ou huis wat dit vandag huisves. Die huis, wat in 1906 gebou is, het eers aan die Haak-familie behoort en het tussen die 1950’s en 1980’s as hospitaal gedien. Fransie het self jare lank as kurator van die museum gedien en besoekers met groot entoesiasme rondgewys. Sy het selfs musiek gemaak om besoekers verder te vermaak.

Hoewel Fransie die eerste museumversamelings bymekaargemaak het, groei die museum se inhoud steeds met skenkings wat inwoners sedertdien gemaak het en nog maak. Vandag vind jy ook inligting oor die persoon prins Albert daar, versamelings van musiekinstrumente, glas, porselein en skilderye, asook ʼn volledig toegeruste slaapkamer met Victoriaanse klere en naaldwerkitems uit vervloë dae.

Ons gesin voor die museum. (Foto verskaf)

Die wapenkamer bevat fassinerende wapens, en die kombuis wys allerhande ou toerusting. Verder is daar inligting oor die dorp se ou watermeule, ʼn mediese afdeling wat stories oor die dorp se ou hospitaal en dokters vertel, en ʼn afdeling oor Gamkaskloof en Meiringspoort se geskiedenis. Laastens bewonder ons plaaslike kunstenaars se handewerk, veral die fyn houtsneewerk van Piet Basson.

Ons kom nie by die museum se biblioteek en argief, wat dagboeke en ander rekords van die omgewing bevat, uit voordat die kinders te woelig raak nie. Maar buite gaan wys ons vir hulle die lykswa wat deur perde getrek is, verskillende plaasimplemente en die mooi tuin.

Witblits word elke Maart in die ou koperketel gestook en by die museum verkoop. Daar is ook boeke oor die geskiedenis en geologie van Prins Albert se omgewing te koop, saam met poskaarte en plakkate.

Nog plekke te besoek om elke hoek

Die dorpie Prins Albert is deurweek met geskiedenis. Elke tweede gebou het ʼn storie om te vertel. Ek loer by die biblioteek in, waar ʼn klompie kinders by rekenaars en boeke sit en ʼn vriendelike bibliotekaresse my verwelkom. Ek knoop ʼn geselsie met haar aan en vra uit oor die dorp. Sy woon al dekades lank daar en beskryf dit as ʼn gebalanseerde plek wat ʼn heenkome bied vir allerlei mense wat die vrede van die Karoo opsoek.

Nog ʼn vrou kom loer in. Sy het net twee jaar gelede van Pretoria af Prins Albert toe getrek en gedy in die klein dorpie – dis die mense wat die plek maak, verduidelik sy. Voordat ek aanstaltes maak, koop ek vier boeke op die biblioteek se uitverkopingsrak teen R5 stuk – wat ʼn winskoop!

Ek stap by die terrein van die historiese NG Kerk-gebou in, verbaas dat die hek oop is. Die gronde is goed versorg en verwelkomend. Die gedenknaald voor die kerk word ook mooi in stand gehou.

Verder straataf is daar ʼn antiekwinkel, waar mens ure lank tussen al die oudhede sou kon snuffel. Ek skeur myself weg en draai na die Swartberg-hotel se ou trappe en die talle klein winkeltjies wat mens nader wink.

Voetseer maar tevrede, en met ʼn sak vol Karoo-skatte oor die skouer, klim ek dankbaar in die kar. Dankbaar dat die geskiedenis op Prins Albert so gekoester en gebruik word vir die bate wat dit is, iets waarop die gemeenskap trots is. Ons motor mik vir die Swartbergpas waarvan ons pas in die museum gelees het, nog salig onbewus van die wonder wat daar vir ons wag.

Die gedenknaald voor die kerk. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

Was vir my ook ‘n ervaring om die Museum asook die hele Prins Albert te besoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.