ToekomsVenster: Antwoorde op jou gebed

(Foto: Stephan Hauman)

“ʼn Lied van Dawid. Hy het hom kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het hom weggejaag en Hy het padgegee.” – Psalms 34:1 (AFR83)

Die verhouding tussen die Here en sy kinders is interessant en delikaat. Dit is boonop baie persoonlik van aard en ons moet daarteen waak om voorskriftelik te wees wanneer dit by ander mense se geloofsbelewings kom.

Dit verhoed ons egter nie om sekere riglyne voor te stel aan die hand waarvan kinders van die Here hulle lewens kan en moet inrig nie. Uiteraard moet hierdie riglyne vanuit die Bybel kom.

Daar is goed wat net God kan doen, goed wat totaal en al buite jou beheer is, waaraan jy niks kan verander nie. Jy is totaal aangewese op God en kan niks anders doen as om te wag op gebedsverhoring nie.

Ek glo dat die Here gebed verhoor van die eerste oomblik af dat jy gebid het. Somtyds neem dit tyd voor die antwoord in sigbare gestalte uitspeel. Geloofsvertroue beteken dat ʼn mens geduldig wag op die Here se antwoord en daarmee vrede maak.

Ek dink ook nie dit is nodig om die Here oor en oor vir dieselfde ding te vra nie. As jy jou petisie eenmaal aan die Here voorgestel het, kan jy dit gerus maar by die Here laat en weet dat Hy op sy eie tyd daarmee sal handel.

Terug by die gedagte dat daar sekere dinge is waaraan ons niks kan verander nie. Ek dink byvoorbeeld aan ʼn ernstige siekbed. Die prognose van die dokter is nie baie positief nie. Trouens, daar is niks wat medies gesproke nog gedoen kan word nie. Net die Here kan help. Dan staan ʼn mens inderdaad in ʼn totaal afhanklike posisie voor hom.

Daar is egter goed waarvoor mense bid waarop jy self die antwoord is. Neem byvoorbeeld hierdie unieke situasie waarin Dawid homself bevind.

Ek twyfel nie vir ʼn enkele oomblik daaraan dat Dawid met die Here oor sy situasie gepraat het nie, immers dit is waar die Psalm beslag gekry het.

Sy lewe is bedreig en iets moes gedoen word.

Dawid kry die slim gedagtes om homself kranksinnig te hou by Abimelek. Vir ʼn kranksinnige mens sien die koning nie kans nie. Dawid word gevolglik weggejaag van die grondgebied van die koning.

Het die Here geantwoord, inderdaad. Het Dawid met gevoude arms gesit en wag dat iets moet gebeur? Glad nie.

Miskien was daar ʼn tyd waarin hy op die Here gewag het totdat Hy besef het dat hy hier self die antwoord op sy gebed gaan wees.

Dat die Here die koning gelei het om op hierdie wyse op te tree, mag so wees. Dawid egter moes proaktief tot die situasie toetree. Tien uit tien vir Dawid vir vindingrykheid. Volpunte vir die Here vir sy genade.

Miskien is daar vandag iets waaraan jy niks kan doen nie. Rus in die wete dat die Here betroubaar is. Miskien is daar iets waarvoor jy al lankal bid. Dalk sê die Here dis tyd dat jy die antwoord op jou gebed moet wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.