ToekomsVenster: Die barmhartige Samaritaan

(Foto: Priscilla du Preez/Unsplash)

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. – Efesiërs 2:4

Wanneer ons oor barmhartigheid nadink kom die verhaal van die barmhartige Samaritaan by ’n mens op. (Gaan lees Lukas 10)

In een sin sou ’n mens kon sê dat die “barmhartige” Samaritaan “barmhartigheid” bewys het. Die eerste begrip (barmhartige) is voorwaarde vir die tweede (barmhartigheid). Die tweede is die normale en noodwendige uitspeel van dié Samaritaan se ingesteldheid. Die tweede kan nie gebeur as die eerste nie teenwoordig is nie. Die twee begrippe, “barmhartige” en “barmhartigheid” is onafwendbaar aan mekaar verbind.

Die verhaal gryp die verbeelding aan. Die feit dat iemand van wie niks betekenisvol verwag is nie, iemand wat met agterdog bejeën is soos wat die Jode die Samaritane beskou het, veral die gedagte dat die Samaritaan genade bewys aan ’n Jood wat in nood verkeer, is betekenisvol.

Hier kry barmhartigheid besondere betekenis.

Vooroordeel en agterdog is deel van ons gevalle natuur. Suid-Afrika met sy kleurvolle diversiteit swig dikwels voor die versoeking om aan vooroordeel en agterdog, eintlik vrees, toe te gee.

Ons leef in ’n samelewing waar niks en niemand meer vertrou word nie. Gegewe die gevaar wat daagliks dreig kan ’n mens niemand kwalik neem nie! Ongelukkig verskans ons onsself op die verkeerde manier teen hierdie onsekerheid. In stede daarvan dat ons stelselmatig begin terugvat wat ons toekom, ’n veilige en gesonde omgewing, bou ons die mure en skanse net hoër en hoër. So word ons net verder en verder van mekaar vervreem.

Die barmhartige Samaritaan het nie toegegee aan vooroordeel en agterdog nie. Ek is daarvan oortuig dat die agterdog wedersyds was. Dit is net wanneer ’n mens agterdog die stryd aansê, doen wat normaalweg nie gedoen word nie, dat barmhartigheid betekenis kry.

Die Bybel sê immers:

Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? – Matteus 5:46

Daag die teks jou uit? Wat maak jy daarmee?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.