ToekomsVenster: Die Boodskap van die Bybel

(Foto: Evie S/Unsplash)

“Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.” – 1 Tessalonisense 5:19 (AFR83)

Die Gees van die Here is werksaam in en deur die lewens van gelowiges. Natuurlik is die Gees nie in kettings nie en werk soos en waar Hy wil.

Ons dink egter gedurende hierdie dae en teen die agtergrond van Pinkster oor die in en deurwerking van die Gees in die lewens van God se kinders.

Aan die vooraand van Jesus se vertrek na sy Vader vertel Hy en onderrig Hy sy dissipels oor die aard en werking van sy Gees. Hy onderstreep dat die Gees tot voordeel van gelowiges kom, dat die Gees ons herinner aan die dinge wat Jesus gedoen en gesê het.

Die Gees het nie ʼn ander boodskap nie. Die inhoud van die boodskap wat die Gees in ons lewens aktualiseer is Jesus en sy versoeningswerk.

Wat Jesus gesê en gedoen en geleer het word op die voorgrond gebring. Gelowiges word daaraan herinner.

Die Gees bemagtig gelowiges om daarvolgens te leef, immers het Jesus gesê, julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees.

Die Gees het nie ʼn ander boodskap nie. Sy boodskap is God se openbaring in Jesus. In Jesus leer ons die Vader ken. Jesus sê dat Hy en sy Vader een is.

Wie Jesus gesien en gehoor het, het die Vader gesien en gehoor.

Wanneer daar inhoud oorgedra word wat nie aan Jesus en sy Vader herinner nie, is daar fout.

Soms beroep mense hulle daarop dat die Gees sekere dinge aan hul openbaar het. Dit mag so wees.

Die Gees sluit die Woord van die Here vir ons oop en help ons om dit beter te verstaan. Ons weet nie alles van God nie en die Gees mag ons aan fasette van God voorstel op ʼn wyse waarvan ons nog nie voorheen bewus was nie.

Dit mag so wees, maar dit moet altyd en onder alle omstandighede die Boodskap van die Bybel wees.

Wees versigtig wanneer mense roem in iets wat die Gees aan hulle openbaar het. Luister in nederigheid daarna en bedink dit daarna deeglik. Dink na oor wat jy weet en waarvan jy oortuig is. Bly daarby.

Die sogenaamde gevestigde en hoofstroom kerke word soms van doodsheid beskuldig. Dit mag so wees, maar die wyse waarop Bybelse waarhede verwoord word is meermale kerngesond.

Ek sê nie die Here se Gees werk nie in ander kontekste nie, inteendeel, maar maak seker.

Nie alles wat aan die Gees toegedig word, is inderdaad van die Gees nie.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.