ToekomsVenster: Die Bybel bring perspektief

(Foto: Unsplash)

“Waarlik, sy toorn duur net ʼn oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” – Psalms 30:6 (AFR83)

Ons is net mense, nie superwesens wat alles onder beheer het en nooit met uitdagings gekonfronteer word nie.

Ek wonder hoe dit sou wees om in ʼn wêreld te woon waar alles altyd reg en goed verloop het. Dit klink dalk idillies en iets waarna ʼn mens moet streef. Ongelukkig is dit nie realisties nie, nie as ʼn mens in ag neem dat ons in ʼn gebroke werklikheid leef nie.

Sommige emosies is aangenaam om te beleef. Dit is aansteeklik en gesog. Vrolikheid en opgewondenheid is sulke emosies. Om die lewe as’t ware met ʼn ligte aanslag tegemoet te gaan, is ʼn gawe. Ons persoonlikhede verskil van mekaar en sommige mense beleef die lewe en sy uitdagings baie meer intens as ander. Die liedjie vertel juis dat ʼn laggende mens baie vriende het. Treurige mense vervreem mense van hulself. Ons wil nie met ons eie en ander se gebrokenheid gekonfronteer word nie.

Sommige mense wil veral negatiewe emosies met ʼn Bybelversie uitkanselleer. Dat die Bybel en die beloftes wat daarin vervat is van onskatbare waarde is, is nie te betwyfel nie. Die Bybel bring perspektief en help ʼn mens om moeilike tye te oorbrug. Ons kan nie sonder die Bybel nie.

Maar die Bybel is nie ʼn kitsoplossing, ʼn towerformule, ʼn resep wat sonder meer en onder alle omstandighede swaarkry ophef nie. Somtyds is die lewe en sy uitdagings doodgewoon harde werk. Punt.

Emosies is nie verkeerd, sleg of boos nie. God het ons tog met die vermoë gemaak om emosies te beleef.

Niemand sê ooit dat om te lag sonde is nie. Die emosie word gewoon erken en ruimte gegee. As om bly te wees aanvaarbaar is, moet daar ook ruimte gelaat word vir hartseer wees.

Om veilig te voel is kosbaar. Om onveilig en bedrieg te voel is legitiem, menslik en in orde. Om lief te hê is prysenswaardig. Om somtyds met gevoelens van vervreemding gekonfronteer te word, is doodgewoon deel van menswees. Emosies is boodskapdraers. Die geheim is dat die emosie nie so moet oorneem en dikteer dat ʼn mens nie kan funksioneer nie.

Die emosie, met name minder aangename waaronder vrees en woede, wil inhoud oordra.

Wat wil die emosie by die persoon wat dit beleef tuisbring?

Soek na die bron daarvan en handel daarmee. Laat die Woord van die Here toe om die proses Goddelik te begelei, maar maak werk van die emosie.

Kom sterker, beter toegerus en volwasse aan die ander kant daarvan uit.

Om aanhoudend die emosie te ontken, te verdoof of te begrawe, is nie gesond nie. Dit klim uit op ʼn tyd wat jy nie daarvoor gereed is nie.

Dit kan jou in ʼn groot verleentheid laat beland.

Hoe voel jy vandag?

Dis in orde, ongeag van wat jy beleef.

Moenie die boodskapper wegjaag nie.

Raak nuuskierig en groei deur die hele ervaring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.