ToekomsVenster: Die Heilige Gees teenoor ons eie gewete

(Foto: Matti Johnson/Unsplash)

“Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.” – 1 Johannes 3:19-24 (AFR83)

Ons fokus hierdie week ietwat op die merkwaardige bediening van die Heilige Gees, die derde Persoon in die Goddelike Drie-eenheid, en dalk moet ons begin met wie en wat die Heilige Gees nié is nie.

Die Heilige Gees is nie my gewete nie. Soms reken gelowiges dat die stem van die gewete die stem van die Gees is. Dat ʼn mens se gewete jou kan aanspreek is inderdaad so. Gewete is daardie standaard waartoe jy jouself verbind het en waarin jy grootgeword het. Dit is die keuse wat jy gemaak het oor hoe jy jou lewe wil inrig.

Die stem van die gewete is egter dikwels negatief en kom soos ʼn aanklag. Jy voel minderwaardig en leef onder oordeel.

Die bose werk dus dikwels deur ons gewete, want die gewete werk met reëls en wette. Jy het hierdie of daardie wetmatigheid deur jou lewe in gedrang gebring, en jy is en staan skuldig. Daar is boonop geen genade vir jou nie. Die stem van veroordeling is nie die stem van die Heilige Gees nie.

Dit beteken nie dat die Heilige Gees nie met erns na ons kom wanneer ons sondig nie. Hy oortuig egter; Hy oordeel en veroordeel nie.

Hy wys ons op die versoening, eerder as ons onvermoë om reg te leef. Hy druk nie sy vinger in ons oog by wyse van spreke nie. Die Heilige Gees omarm eerder.

Niks minder ernstig nie, maar met ʼn ander uitkoms.

Die Heilige Gees skep spasie. Die gewete en die bose wat soms daardeur werk, bind jou vas, sluit jou toe, laat jou wegkwyn.

Die gewete hou ʼn mens by die “ek, ellendige mens”-gedeelte van Paulus se klag, maar die Heilige Gees bring ons by “maar ek dank God in Christus Jesus”.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.