ToekomsVenster: Die Vader sorg vir julle

(Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” – Matteus 6:34

Vergewe as ek die volgende gedig deur Phil Keaggy in Engels aanhaal:

Said the robin to the sparrow

I would really like to know

Why these anxious human beings

Rush about and worry so

Said the sparrow to the robin

Friend, I think that it must be

That they have no Heavenly Father

Such as cares for you and me

Ons bederf die voëls elke oggend met ruim saadjies en vrugte waarvan hulle hou. Eintlik bederf hulle ons omdat ons dit terdeë geniet om te sien hoe hulle baljaar. Hulle het so bederf geraak dat hulle vroegoggend reeds op die telefoondraad vergader en wag.

Voëls is weglaatbaar onbelangrik. Eksotiese voëls mag waardevol wees, maar die rooi vinkies en mossies wat by ons aandoen is sommer doodgewoon. Tog sorg ons, elke dag, so getrou dat ons selfs in vakansietye reëlings probeer maak dat hulle kos kry.

Die Here sorg vir die voëls, sê die teks. Hulle is die toonbeeld van rustige geloofsvertroue. Hulle maak nie bymekaar nie, sien nie die dokter oor uitputtende bekommernis nie. Hulle staan nie voor die spieël en wonder wat om aan te trek nie. Die Vader sorg vir hulle.

Twee mossies is weglaatbaar goedkoop. Jy betaal skaars daarvoor, sê die teks. Tog sorg God vir hierdie geringe wesens, hoeveel te meer vir ons?

Dalk kan ons by die voëls iets leer van geloofsvertroue, van veel minder bekommer en besorg wees, van bely: “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het, wat getrou bly tot in ewigheid en nooit laat vaar die werke van sy hande nie”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.