ToekomsVenster: Gee meer

omgee-broer-suster-kinders

(Foto: Unsplash/Pixabay)

Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. – 2 Korintiërs 9:7

Ek het ʼn week of wat gelede die mooiste inset op TV-nuus gesien. Die bekende Gift of the Givers het verslag gedoen oor hul werksaamhede en vertel van die talle situasies waarin hulle moes hulp verleen. Dit sluit ʼn wye spektrum van werksaamhede in waarvan voedsel nood waarskynlik die grootste en vernaamste is.

Die gespreksgenoot het entoesiasties vertel hoe mededeelsaam die Suid-Afrikaanse gemeenskap is, soveel so dat hulle op ʼn stadium moes vra dat skenkings van allerlei aard eers teruggehou word omdat die aanbod groter is as die vraag. As dit darem nie ʼn wonderlike getuienis is van die Suid-Afrikaanse bevolking nie, weet ek nie.

Die interessante is dat mense gee terwyl die lewe by die dag duurder word. Dink maar aan die astronomiese koste van brandstof, toegegee, daar is die verwagting dat dit weer effens gaan daal gedurende hierdie maand. Niemand sal egter stry dat die lewe bykans onhanteerbaar duur geword het nie.

Elkeen van ons het iets wat ons kan gee. Dit hoef nie noodwendig geld te wees nie. Dit vra ʼn bietjie eerlike selfondersoek om te bepaal wat die gawe of gawes is wat God aan jou toevertrou het.

Vir sommige is dit tyd, vir ander geld. Vir sommige hulpverlening en vir ander ʼn simpatieke oor.

Sommige doen dit deur sosiale media in te span en ander ry die kilometer of drie.

Feit van die saak is dat jy ʼn besluit neem dat jy berekend en doelbewus gaan gee, nie met ʼn agenda nie maar omdat dit die regte ding is om te doen.

Gee meer in 2022, God sal jou verras.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.