ToekomsVenster: God praat met ons

luister-na-God

Argieffoto.

In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. – Hebr. 1:1-2

Hebreërs is nie ʼn maklike boek om te verstaan nie, altans nie vir my nie. Ek moet lees en weer lees en nadink oor wat ek gelees het. Dit is in elk geval waar van die Bybel as geheel. Ons lees nie die Bybel terwille van ʼn geskiedenisles nie maar met die verwagting dat die waarhede wat daarin vervat is ons lewensrigting kan en sal bepaal.

Om te lees en weg te stap sonder om verander te word, is soos om in ʼn spieël te kyk en te vergeet of te ignoreer wat jy gesien het. Jou hare is deurmekaar maar dit het nie by jou geregistreer nie. Die bedoeling van die oefening met die spieël is tog dat jy sal interpreteer wat jy sien en dienooreenkomstig sal optree. Soek die kam of borsel en bring ʼn bietjie orde in wat op jou kop aangaan.

So is dit ook met die Woord. Die Woord is lewendig en kragtig en skerper as ʼn tweesnydende swaard, leer die Bybel ons. Dit openbaar die bedoelinge van ons harte, dit lê ons bloot, ja dit ontbloot ons. Die ontbloting is egter nie daarop gemik om ons te verkleineer of te verneder nie. So werk God nie met mense nie.

Wanneer ʼn mens die ervaring het dat jou omgang met die Woord jou eerder van God vervreem as nader trek, is dit dalk nie die Heilige Gees wat met jou besig is nie. Die bose hou daarvan om af te takel, te verrinneweer en te verniel. God trek met liefdesbande, op ʼn sagte en deernisvolle manier. Indien ʼn mens egter volhard op ʼn pad van onverskilligheid en rebellie moet ʼn mens nie verbaas wees as die Here al hoe harder begin praat ten einde jou aandag te bekom nie. Ek aanvaar egter dat dit nie so met jou gesteld is nie. Jy bedoel dit ernstig met Hom soos Hy met jou.

God praat met ons, sê die teksgedeelte. Loof sy Naam dat sy stem nie stil geword het nie. Loof sy Naam dat Hy steeds bemoeienis maak met mense, dat dit nog die aangename dag van die Here is, dat genadetyd nie verby is nie.

Hebr. 3:15 – “Vandag as julle sy stem hoor,  moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

Ps. 95:8 – “Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba, soos die dag by Massa in die woestyn nie, waar julle voorvaders My uitgetart en my geduld beproef het, hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.