ToekomsVenster: Goddelike Drie-eenheid van Vader, Seun en Heilige Gees

(Foto: Tom Barrett/Unsplash)

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.” – Johannes 16:13-15 (AFR83)

Ons deel gedagtes oor die Heilige Gees. Dankie dat ons oor hierdie merkwaardige gawe mag en kan gesels. Ons is juis op weg na die viering van Pinkster en in besonder die uitstorting van die Heilige Gees in die kerklike jaar.

Wanneer ons nadink oor werk van die Heilige Gees moet ons by die Goddelike Drie-eenheid begin.

Daar is mense wat voorbehoude oor hierdie saak het. Hierdie dagstukkies is nie die aangewese forum om sulke leerstellings en kwessies te debatteer nie. Ons gesels hier met mekaar as persone wat dieselfde belydenis het. Daar mag aksentverskille wees, maar ons stem met mekaar saam oor die vernaamste sake.

Soms word ek kwalik geneem as ek weier om betrokke te raak by sulke gesprekke. Ek maak daarvoor nie verskoning nie.

Terug by die Goddelike Drie-eenheid van Vader, Seun en Heilige Gees. Drie persone, maar een Godheid, as jy wil, is misterieus, onverstaanbaar en merkwaardig. Drie persone wat só met mekaar verweef is dat hulle amper nie uitmekaar gehaal kan word nie. God is die Skeppergod, maar Jesus is eweneens Skeppergod. Jesus verlos ons, maar God, die Vader, verlos ons netso.

Die Heilige Gees is ons Leidsman, maar dit geld eweneens van die Vader en Seun.

Ja, daar is ʼn fokus in ons verstaan van die drie Persone. Kortweg: Die Vader het alles geskep, die Seun verlos, en die Heilige Gees lei ons in waarheid.

As ons dan in ons gebede Jesus spreekwoordelik sou aanbid vir die pragtige skepping, is die Vader nie daaroor vies nie. Hy sê nie: “Nee, jy het dit verkeerd nie. My seun het nie geskep nie, dis my terrein.”

Om slim te bid bring egter die dimensies van die drie Persone na vore, en ons bid byvoorbeeld: “Vader, U handewerk is fenomenaal. Jesus, U verlossingswerk is prysenswaardig. Heilige Gees, U oortuigingswerk is onweerstaanbaar.”

So gesien, help dit ons om sin te maak van wat ons glo en wat waar hoort.

Drie maar Een. Een maar Drie.

Volledige harmonie.

Onverstaanbaar, maar waar.

Here, ons aanbid U. Amen

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Dankie, Jannie, dankie vir jou kortlikse poging rakende hierdie vraagstuk waarmee baie mense nog altyd mee sukkel. Mens loop en lees dit dikwels raak.
Ek wonder net waarom word daar so min altyd (nie net jy nie) na ons Belydenisskrifte verwys, wat saamgestel is juis om baie van hierdie vraagstukke te verduidelik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.