ToekomsVenster: Jesus het die verskil kom maak

Foto: Gaelle Marcel/Unsplash.com

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. – 1 Kor.15: 55-56

Verlede jaar is nie so ver verwyder dat ons nie steeds daarna kan verwys nie. So lees ek ʼn artikel wat na verskeie sterftes van bekende persoonlikhede in die Suid-Afrikaanse konteks verwys. Die opskrif van die artikel is “2019, Rus in vrede”.

So tussen hakies wonder ek waar die gedagte aan rus in die hiernamaals gevind word. Ek het ʼn idee die Here gaan ons goed besig hou maar, dit daar gelaat.

Onder die bekendes wat gedurende 2019 oorlede is tel verskeie rugbyspelers en musikante. Uiteraard is verskeie politici en ander oorlede.

Die dood is ʼn werklikheid. Tobie Wiese se boek oor die dood het ʼn toekenning ontvangs en verkoop aggressief. Die dood is aktueel, ons kan daarby nie verby kom nie.

Ek is so dankbaar vir die Bybelse perspektief op die dood. Paulus help ons so baie wanneer hy vanuit die oorwinning na die dood verwys. Die dalk bekende lied dryf amper die spot met die ongenaakbare houvas wat die dood op mense gehad het.

Jesus het die verskil kom maak. Die angel van die dood is uitgetrek. Die sonde het Hy in en aan sy eie liggaam gedra en ons so verlos van die donker skadu wat oor ons menswees gehang het. Die dood is vreemd en ek dink nie dat mense in die normale lewe daarna uitsien nie. Die lewe as sodanig is kosbaar en eenmalig, mens moet dit nie om wens nie. Tog klop die doodsbesoeker een of ander tyd aan ons deur en sal ons saam moet stap. Onderhandel sal dan nie help nie.

Die Bybel sê dis ʼn heerlike toekoms wat die Here vir ons voorberei het. Joh. 14 getuig daarvan. Ons kan met verwagting lewe en sterwe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.