ToekomsVenster: Jy ken nou die pad

Stlitetyd_Sonsondergang_stap_Juaniata-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Jesaja 25:1 – Here, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.

Jy ken nou die pad, loop dit. As jy op pad is Bloemfontein toe maar jou GPS Durban stel, is daar fout. Jy weet mos dat jy nie jou bestemming gaan bereik nie. Die paaie loop verskillende rigtings en bring jou by verskillende plekke uit.

Paulus getuig daarvan:

Romeine 6:1-2 – Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?

Jy kan nie aanhou die verkeerde doen en redeneer dat die genade diensooreenkomstig sal toeneem nie. Ja, die mens is geneig tot die verkeerde en verandering kom met verdrag.

Ou sondes en uitdagings sal weer en weer aan jou deur kom klop maar namate jy in die Naam van die Here gesag neem en sy heerskappy oor elke versoeking en uitdagings bely, sal die greep van die verkeerde in jou lewe verswak.

Soms moet ʼn mens dramatiese besluite maak. Die dinge wat ooglopend probleme veroorsaak en jou in die moeilikheid laat beland, moet gelos word.

Jy maak jou hand oop en laat dit gaan. Niks minder en niks meer nie.

Ander is hardnekkig en jy soek professionele hulp om jou daarvan los te kry. Ander laat los die oomblik wat jy die naam van die Here Jesus op jou lippe neem.

Jou dagboek en die inkleding daarvan begin anders lyk. Jy heroorweeg die plekke wat jy gereeld besoek het, jy dink ernstig na oor die verhoudinge waarbinne jou lewe afgespeel het. Jy is realisties met jouself dat slegte geselskap sedes bederf. Vir nou is hierdie vriende en kennisse die Here se totale verantwoordelikheid. Op die aangewese tyd sal Hy, namate jy in jou geloof versterk is die toerusting ontwikkel om met die wat die Here op jou pad bring, ʼn pad te begin stap.

  • Jy maak tyd vir God in jou daaglikse skedule. Jy waak jaloers oor alleentye saam met Hom.
  • Jy verafsku die dinge wat Hy verafsku en hang die dinge aan wat Hy aanhang.
  • Jy begin stadig maar seker soos Jesus dink, optree, besluit. Jy begin in die nouste kring, die mense rondom jou.
  • Jy maak reg wat verkeerd geloop het toe jy ver van God was. Jy vra verskoning waar die geleentheid hom voordoen.
  • Jy lees die Handleiding vir die lewe, luister na musiek wat daardie boodskap in jou gemoed insing, kuier op die internet en luister na boodskappe van interessante en geïnspireerde predikers.
  • Jy raak nie wêreldvreemd nie, jy bly mens in alle opsigte. Die dryfveer het nou net verander. Daar is ʼn sensitiwiteit waarvan jy nie vroeër bewus was nie. Ja, stadig maar seker raak alles nuut.

Om op te som:  Mense wat diep bewus geword het van hul behoefte aan ʼn geneesheer vind in Jesus die antwoord op die soeke van hul lewe. Hulle begin die reis saam met Hom en word verander, vernuwe en verdiep namate die Gees met hulle op pad is. Wanneer die Seun  van die mens op die wolke kom sal hulle volmaak wees soos Christus.

Is jy op hierdie trajek in jou lewe?

Dit is die verwagte uitwerking van die belydenis, Here, U is my God.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here vir genade en die liefde groter as my verstaan

Agter die skerms ·

Dankie Here net vir U om elke dag te groet en more te se en dat U u hand oor ons sal sit. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.