ToekomsVenster: Kom ons maak die lewe makliker vir mekaar

(Foto: Daria Obymaha/Pexels)

Kom ons kyk na wat die formulier sê wanneer dit by vroue en hul verantwoordelikheid kom:

As vrou moet jy weet dat dit God is wat jou aan jou man verbind het, net soos die gemeente aan Christus verbind is. Soos die gemeente die Here liefhet en in gehoorsaamheid volg, so moet jy jou man liefhê en hom volg in alles wat reg en billik is.

Ek sê dikwels vir paartjies wat aanmeld om met mekaar in die huwelik te tree, trou met die ander party is ʼn daad van gehoorsaamheid.

Wat bedoel ek daarmee? Ek bedoel dat God hierdie man en hierdie vrou op mekaar se weg gebring het. As die paartjie nie absoluut oortuig is dat hierdie huweliksluiting God se plan vir hul lewens is nie, moet hulle eerder eers wag en seker maak.

Immers, die Here se plan is groter as die huwelik wat op hande is. Hierdie man en vrou word soos Adam en Eva bymekaar gebring ter wille van die Koninkryk.

Ja, daar is ontelbare vreugde opgesluit in die huwelik, ek huiwer om meer eksplisiet te wees. Die huwelik is nie saai, vervelig, bleek en voorspelbaar nie. Inteendeel, daar moet altyd ʼn stuk romantiek wees, die eise van die lewe en die eise van die gesin ten spyt. Ons mag mekaar nie gewoond raak nie, die wonder dat jy langs hierdie mens wakker word soggens, moet jou telkens weer aangryp en met dankbaarheid vervul.

Gister het ons gesels oor die man se verantwoordelikheid in die huwelik en dit is nie benydenswaardig nie. Inteendeel, dit verteenwoordig ʼn hoë, ja, ʼn Goddelike standaard. Dit geld egter eweseer vir die vrou. Weereens met daardie woordjie “soos” ongemaklik, maar waar.

Soos die gemeente die Here liefhet en in gehoorsaamheid volg, so moet jy jou man liefhê en hom volg in alles wat reg en billik is. ʼn Man wat geen erkenning en aanmoediging in die huwelik ontvang nie, is ʼn ongelukkige man. Wanneer vroue niks anders as kritiek het vir en teenoor hul mans nie, nie huiwer om hulle in geselskap stil te maak, teë te spreek en te verkleineer nie, moet hulle nie ʼn lieftallige man verwag nie. Dit geld uiteraard vir die vrou ook, maar ons praat vandag oor vroue se ingesteldheid teenoor die man met wie hulle getrou het.

Ja, in vandag se huishoudings dra man en vrou ewe swaar aan die verantwoordelikheid, somtyds verdien die vrou selfs meer as haar man. Daarbenewens is daar allerlei ander take wat verrig moet word voordat sy tot rus om.

Die werk is eers klaar wanneer dit klaar is. Tot dan, ondersteun man en vrou mekaar met die take van die huishouding.

Dis regtig ʼn kwessie van gee en neem. Dit is nie moeilik of onredelikheid nie. Liefde dra nie swaar aan eiewaan nie. Liefde maak nie seer nie. Liefde steek ʼn helpende hand uit.

Ons is anders, al is ons dieselfde in vele opsigte.

Uiteraard identifiseer die skrywer meer met die manlike geslag waarvan hy deel is.

Sewe leë sake sout lê in die pakkamer as ʼn bewys dat die leerskool nie altyd maklik is nie.

Kom ons maak die lewe vir mekaar makliker, nie moeiliker nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.