ToekomsVenster: ’n Magtige teenwoordigheid

vrou-sonsondergang-veld

(Foto: Edu Grande/Unsplash)

Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word. – Hab. 2:14

Wat nou gedeeltelik beleef en waargeneem word sal iewers in die toekoms in volle werklikheid en heerlikheid deurbreek.

Somtyds, deesdae meermale, word ek persoonlik oorweldig deur die gebrokenheid van alles. Die dinge waarmee die mensdom gekonfronteer word, is selfs afgryslik ongenaakbaar. Dit kom op verskillende wyses na mense toe.

Natuurrampe is een gestalte daarvan. Die gebeure van die afgelope dae in KwaZulu-Natal is daarvan ʼn sprekende voorbeeld. Dit is asof hierdie verskynsels toeneem. Dit word aan aardverwarming toegeskryf en die wyse waarop ons die natuur verniel. Dit mag een van die oorsake wees maar die impak daarvan is baie erg.

Ek herinner my aan ʼn aantal jaar gelede, ons was by die Suidkus met vakansie toe die tsunami die eilande getref het en honderde duisende mense omgekom het.

Ek dink terug aan die aardbewing in Turkye waar duisende mense onder puin begrawe was.

Soos reeds gesê, plaaslik word ons tans ook daarmee konfronteer.

Mens se gedagtes gaan uit na elkeen wat ʼn geliefde aan die dood afgestaan het en al die behoeftes en nood wat uit die omstandighede spruit.

Daar is siekte, hongersnood, ai, om te dink dat mense van voedselnood omkom, is net te erg. Rampe, ellende, swaarkry, oorlogsgeweld, rampokkery en misdaad hier by ons asook korrupsie is soms net te veel om te verwerk.

Die Bybel sê egter daar sal daaraan ʼn einde kom.

Daar kom ʼn dag van afrekening waar dit van toepassing is, maar daar lê ook ʼn  huwelikseremonie voor; die Bruilofsmaal van die Lam.

Wanneer God in Christus in heerlikheid verskyn, dié keer nie om doodgemaak te word nie, maar sy Koningskap te bevestig; God oor alles en almal, sal die hele aarde gevul word met die kennis van die heerlikheid van die Here, net soos die waters die seebodem bedek.

Die nag het ver gevorder en dit is amper dag.

Die Bybel sê: “bemoedig mekaar met hierdie woorde”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.