ToekomsVenster: Net wat mooi is

(Foto: Thomas/Pexels)

“U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.” – Psalms 16:11

Ek dink dat jy met my sal saamstem dat hierdie ʼn baie besondere Psalm is en die toon van die Psalm is een van absolute verwondering oor die goedheid van die Here.

Ons raak so maklik onvergenoegd en ondankbaar. Ons vergeet hoe goed die Here vir ons is en vergelyk ons met ander mense en hulle oënskynlike rykdom en geluk.

Die skrywer van Psalm 73 het dieselfde probleem gehad. Hy vertel hoedat hy na die goddelose kyk en dit lyk asof hulle geen probleem het nie. Hulle is boonop trots en arrogant oor dit wat hulle besit. Trots hang aan hulle soos ʼn halssnoer. Hulle ontsien niemand en niks nie, maar is oënskynlik baie gelukkig.

Ek dink ons almal voel by tye so. Die lewe is lekker deurmekaar en ons verstaan nie altyd waarom sekere dinge met ons gebeur nie. Ons vergeet dat ons nog aan hierdie kant van die ewigheid is en dat die Koninkryk van God in sy volle heerlikheid en volmaaktheid nog nie volledig deurgebreek het nie. Ons ervaar nog maar die eerste tekens van die toekoms waarheen elkeen van ons as gelowiges op pad is.

ʼn Ander probleem is natuurlik dat ons onsself altyd “opwaarts” vergelyk. Ons definieer wat ons nie het nie, maar vergeet wat ons wel het.

Ek ken jou nie en dit mag wees dat jy regtig groot uitdagings op die oomblik tegemoet gaan. Dit mag selfs wees dat daar broodgebrek by jou is.

Tog glo ek dat vir die meeste van ons dit die spreekwoordelike kla met die “witbrood onder die arm” is. Die Psalmdigter van Psalm 16 sê, die Here is goed, en dit is waarskynlik die meeste van ons se ervaring en getuienis.

Gelukkig eindig Psalm 73 nie met die onvergenoegdheid van die digter nie. Daar is ʼn dimensie van betekenis wat goddelose mense nooit sal smaak nie, sê hy. Dit is as hulle sou voortgaan met hulle onverskillige leefwyse.

Dit is die ervaring van die teenwoordigheid van God. Die Psalmdigter ervaar dit in die besonder wanneer hy die tempel besoek. As Nuwe Testamentiese gelowiges is ons die tempel van die Heilige Gees en behoort ons op ʼn daaglikse basis bewus te wees van die teenwoordigheid van die Here.

As ons dan weer verwys na vers 11 van Psalm 16 kan ons met meer perspektief nadink en ons instemming betuig dat God inderdaad buitengewoon goed is.

Aan Hom kom toe die lof en die eer, die aanbidding en die heerlikheid, tot in ewigheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.