ToekomsVenster: Om waarlik vry te wees

(Foto: Frank Mckenna/Unsplash)

“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” – Johannes 8:36 (AFR53)

Ons het die verlede week Vryheidsdag gevier. Vryheidsdag is ʼn Suid-Afrikaanse openbare vakansiedag, wat jaarliks op 27 April herdenk word ter herinnering aan die land se eerste demokratiese verkiesing.

Bykans 30 jaar aan die ander kant van daardie heuglike dag in Suid-Afrika se geskiedenis, toe alle mense die geleentheid gehad het om hulle reg om te stem vreesloos te kon uitbring, is daar steeds baie groepe mense wat voorbehoude sal hê wanneer oor vryheid gepraat word.

Presies wat is die inhoud van vryheid, wanneer is ʼn mens waarlik vry, wat is die regte en verantwoordelikhede wat met vryheid gepaardgaan? Wat van ander mense wat jou vryheid inperk, genadeloos op jou vryheid toeslaan, jou stil maak as jy jou gedagtes durf uitspreek?

Dit is uiteraard ʼn mens se gebed dat ons hierdie vryheid, waarvoor baie mense ʼn hoë prys betaal het, met die nodige deernis, verantwoordelikheid en waardering sal beleef en gedenk. Suid-Afrika is ʼn land wat hoogspanning beleef en somtyds vrees ʼn mens dat die vryheid dalk van korte duur mag wees.

Dank die Here dat Hy in beheer is, dat daar nog van Sy kinders in Suid-Afrika is wat die ware betekenis van vryheid verstaan en beleef. Dit is my oortuiging dat ʼn mens eers binne moet vry wees voordat jy uiterlik vry kan wees. Jy kan uiterlik al die vryhede hê waarvoor jy wens, maar as jy innerlik steeds in slawerny is, beteken dit min.

Vryheid is duursaam. Dit het die Seun van die mens se lewe gekos. Die Bybel sê, as die seun jou vrygemaak het sal jy waarlik vry wees.

ʼn Mens kan die vraag vra, vry waarvan?

Vry van die oordeel van God oor sonde waarin elkeen van ons deel het:

  • om die regte keuses te maak,
  • om ander mense hulle spasie te gee,
  • om medemense soos mense te behandel,
  • om jou persoonlike vryheid te beleef en te vier.

Dit spreek vanself dat die bose nie genoeë is met die vryheid waarmee Christene geseën word nie.

Hy doen alles in sy vermoë om daardie vryheid in te perk of radikaal om te keer in slawerny. Hy doen homself voor as ʼn engel van die lig, maar ons weet dat hy ʼn pion van die duisternis is.

Hy werk op subtiele maniere en kry baie mense so in sy greep.

Ek herhaal vryheid is duursaam, die kruis op Golgota se heuwel is ʼn bewys daarvan.

Leef vry en beywer jou vir die vryheid van alle mense, geestelik en op alle ander terreine van die lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.