ToekomsVenster: Sy handewerk is ’n uitnodiging

Argieffoto (Foto: Kazuend/Unsplash)

“Of besef julle nie dat julle liggaam ʼn tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie.” – 1 Korintiërs 6:19 (AFR83)

God het ons wonderlik gemaak. Na liggaam, siel en gees is ons beelddraers van Hom. Ons verbeeld God in hierdie wêreld. Ons maak Hom sigbaar.

Wanneer mense se paaie met ons s’n kruis behoort hulle “God-bewus” te word. Dit is ʼn baie hoë roeping wat op die lewe van gelowiges rus. Meer direk gestel, behoort mense wat die Here nie ken nie ná ʼn ontmoeting met ons te kan sê daar móét ʼn God wees.

Die ganse natuur wil ongelowiges by daardie punt bring. Die Bybel sê dat niemand homself sal kan verontskuldig deur te sê dat hy God nooit gesien en ervaar het nie. Die ganse skepping getuig van sy heerlikheid; sy hande werk is ʼn uitnodiging om by God tuis te kom.

As dit van die skepping waar is, is dit van die mens as die kroon van die skepping waar.

Die vraag is inderdaad waarvan mense wat my en jou pad kruis bewus word wanneer hulle met ons te doen het.

Onverdraagsame, onvriendelike, humeurige, ondankbare en wantrouige mense wat niks goeds oor ander te sê het nie?

Nee, eerder dankbare, rustige, kalm en beredeneerde, vriendelike en ontvanklike mense by wie jy sommer tuiskom.

Genade bring ʼn mens grond toe. Daar is niks neusoptrekkerigs in die lewe van ʼn Christen nie.

Waarmee wil ons so graag spog? Jou, my posisie in die samelewing, inkomste en geleerdheid, vindingrykheid en prestasies, familiebande – alles genade.

Alles onverdiend.

Alles geskenke uit die hand van God.

Snobisme is hoogmoed, en die Here weerstaan hoogmoed. Nederigheid beteken nie dat jy ander se slaansak of slaaf is nie. Nederigheid beteken nie dat jy nie ʼn ruggraat het en jouself nie kan handhaaf nie. Ons Christus-identiteit maak nie van ons voorwerpe van mishandeling nie.

Inteendeel, Christene trek hul skouers terug en kyk die lewe in die oë.

Christene stap soos mense wat ʼn bestemming het.

Christene is op pad, altyd op pad, totdat die laaste tree op aarde gegee is.

Ons is inderdaad tempel van die Heilige Gees.

Die Gees vul ons met liefde, krag en selfbeheersing.

Wat ʼn kombinasie van genademiddele – krag en selfbeheersing.

Dink ʼn bietjie daaroor na.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Uitstekend verwoord ds Jannie.Hierdie is vir my die kern van ons Christelike geloof en neem ons ook op die pad na heiligmaking.Hoogmoed en nederigheid is en bly opponente van mekaar en sal nooit versoen nie,tensy die hoogmoedige sy hoogmoed laat vaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.