ToekomsVenster: Tempel van God

(Foto: Ben White/Unsplash.)

Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? – 1 Kor. 3:16

Dit is interessant dat Paulus die feit dat ons die Heilige Gees as’t ware huisves binne in ons by wyse van ʼn vraag aan die orde stel.

Die Boodskap vertaling stel dit meer feitelik:

Julle besef natuurlik dat julle die plek is waar God op ’n baie spesiale manier teenwoordig is, soos in ’n tempel. God se Gees bly mos in julle soos iemand in ’n huis bly.

Dit help nogal met die verstaan van hoe die Gees van God in ʼn mens kan woon. Die res van die gedeelte is daarom ook baie belangrik en rigtinggewend. Daar staan in vers 17:

As iemand God se tempel skade aandoen, sal hy met God self te doen kry. En dit gaan nie lekker wees nie, want God se tempel behoort aan Hom. Dit is Syne en net Syne. Julle is daardie tempel van God.

Paulus wil enige gedagte dat ʼn mens wat bely dat hy ʼn Christen is onverskillig kan voortlewe, by die nek omdraai. Die verandering wat by ʼn mens gekom het in en deur die wedergeboorte en die nuwe lewe wat God skenk, is dramaties en ingrypend. Dit is inderdaad soos dag en nag, immers, die Bybel sê ons is kinders van die lig, ons wandel in die lig.

Dit gebeur soms dat wêreldse mense, daarmee bedoel ek mense wat nie ʼn verhouding met Jesus het nie en wie se lewenswandel deur onverskilligheid en traak-my-nie-agtigheid gekenmerk word, Christene veroordeel daarvoor dat hul lewenswandel geensins verskil van hulle s’n nie. Die verwyt moet in balans gesien word.

Ons is in die wêreld maar nie van die wêreld nie. Ons is hier nie tuis nie, weliswaar vreemdelinge op aarde maar in baie opsigte net so aangewese op gewone dinge soos enige iemand anders.

Ons het ook ʼn behoefte aan sosialisering, ontspanning, sportbeoefening; ons droom ook oor finansiële onafhanklikheid en voorspoed, wens ons kinders ook die beste toe, wil graag vir ons en ons kinders ʼn veilige hawe skep.

Ons is net so kwesbaar soos enige ander mense, moet voorsorg tref, planne maak en in plek bring. Ons eet en drink, leef en speel soos enige ander mense.

Soms het wêreldlinge die idee dat Christene iewers in ʼn lugleegte rond sweef – uiteraard onrealisties en nie waar nie. Dan weer het ons totale besig wees, ons lewe op aarde, ons drome en ideale, ons werk en speel ʼn ander fokus – nie selfsug en eiebelang nie maar die eer van God en die welwees van ander.

Ons is inderdaad God se hande en voete op aarde. Die Heilige Gees woon in ons en stel ons daartoe in staat.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.