ToekomsVenster: Verbly jou in die hoop

hoop-sonsopkoms

Foto: Pixabay.com

“… dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.” – Romeine 12:12

Ons sê dit dikwels vir mekaar, ons leef in uitdagende tye. Dit is waar van die omgewing waarbinne ons onsself bevind asook van ons eie persoonlike omstandighede.

Die lewe is nie maklik nie en uitdagings is aan die orde van die dag. Dit is nie moeilik om hopeloos te voel nie. Dinge kan partykeer so oorweldigend raak. Dis die een ding na die ander, asof die lewe jou nie wil ontsien nie.

Die Bybel sê, verbly jou in die hoop. God is die bron van hoop. Haal God uit die vergelyking uit en daar is niks wat hierdie wêreld aan mekaar hou nie

As God homself sou onttrek, sou die wêreld nie vir ʼn enkele oomblik kon bestaan nie. Dit geld eweneens vir elkeen van ons se persoonlike lewens.

Elke asemteug, elke tree, elke beweging, elke gedagte, elke besluit is omdat Hy dit moontlik maak.

Ons het dit al vir mekaar gesê, God is die Inisiatief-nemer in alles. Hy is ons altyd een tree voor. Dit behoort vertroue by ons in te boesem. Hy is spreekwoordelik daar voordat ons aankom. Hy berei die pad voor, berei ons eweneens voor vir dit wat voorlê.

Die Bybel praat van die ewige verderf. Die gedagte dat daar mense is wat die hemel gaan misloop en wie se ewige tuiste in die verdoemenis is, is ontstellend. ’n Mens wil elke persoon wat jou pad kruis dringend konfronteer met die vraag of hy gereed is om sy Skepper te ontmoet.

Die Bybel praat van ʼn dag van afrekening, ’n dag wanneer die boeke geopen sal word en elkeen geoordeel sal word volgens dit wat hy gedoen het, of dit goed is of sleg.

Gelowiges weet dat dit net die genade van God is wat ons deel laat kry aan sy ewige heerlikheid. Hy het die prys betaal sodat ons nie die prys hoef te betaal nie.

Die verderf is ʼn plek van hopeloosheid, dis ʼn plek waar dit vir altyd te laat geword het. Ons leef in genadetyd, omdat God leef, in ons lewe, en met ons en hierdie wêreld op pad is.

Die Bybel sê wees bly want daar is hoop, ongeag jou omstandighede en die uitdagings waarmee jy vandag gekonfronteer word.

Die hoop beskaam nie, mag dit vandag vir jou vrede bring

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.