ToekomsVenster: Wie is Jesus vir jou?

liggies-geskenk-skenk

(Foto: Chris Moore/Unsplash)

Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. – Hebreërs 1:3

Ongelukkig is almal wat die naam van Jesus noem, nie op die Bybelse pad nie. Dit is juis hulle verstaan van wie hierdie Jesus is wat die onderskeidelike is en waarop ʼn mens moet ag slaan. Toets hul verstaan maar gerus: is Jesus die enigste en ware Seun van die Lewende God en self God?

Net hier loop die paaie uiteen.

Die gevaar is groot dat ʼn mens onverhoeds oorrompel en selfs oortuig word omdat jy self nie die kennis het nie. Toegegee, mens is tog nie voorbereid om elke stukkie dwaling wat na jou toe kom te bestry nie. Dit kom in vele gedaantes en die kreatiwiteit van die vyand in die verband, ken geen perke nie.

Inderdaad, Jesus is die onderskeidelike. As jy Jesus misloop, loop jy die lewe mis.

Die vraag is dus: “wie is hierdie Jesus vir jou”.

Kan jy en ek darem ʼn intelligente gesprek voer oor die Persoon van Jesus?

Is Hy ʼn mooi voorbeeld van onbaatsugtige diens en naaste liefde alleen of is Hy wie Hy sê Hy is, die Weg, die Waarheid en die Lewe?

Wie Jesus het, het die lewe.

Wie Jesus nie het nie het nie die lewe nie. Goeie bedoelings ten spyt.

Petrus se belydenis help sommer baie. “Wie sê die mense is ek,” vra Jesus. Petrus en die dissipels antwoord, “Elia, ʼn  profeet”, maar Jesus dwing egter ʼn antwoord af.

“Wie sê julle is ek?” Petrus se antwoord “U is die Christus, die Seun van die Lewende God” dwing respek af.

“My Vader moes dit aan jou openbaar het Petrus, anders sou jy nie geweet het nie.”

Jesus, Seun van die Lewende God, self God, die Messias Koning, die Lam wat geslag is, die deur na die lewe, die ware wingerdstok, die blink more ster, die alfa en die omega.

Wie is Jesus vir jou?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens CFG ·

Hy is my Velosser, my Redder, die Ewige Lewe, my Alles.
Sonder Hom, is ek verlore.

Yvonne ·

Amen…dankie Here Jesus U is my alles tot in alle ewigheid, my Redder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.