Video: Gelowiges in Sirië ʼn lig te midde van die oorlog

Pastoor Edward en sy vrou, Rana (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Die lyding van vervolgde Christene in Sirië en Irak duur voort. Hoewel die afgryse van die verwoestende oorlog met die Islamitiese Staat lyk of dit grootliks verby is, is die situasie baie broos en die bedreiging van ekstremiste blywend. Die kerk is egter ʼn baken van hoop wat help om hoop lewendig te hou terwyl gelowiges deur Islamitiese ekstremiste geteiken word.

Pastoor Edward, ʼn kerkleier en bestuurder van die Sentrum van Hoop by die Alliansiekerk in Damaskus, Sirië, se gemeente help die afgelope elf jaar vervolgde Christene in Sirië om sterk te staan te midde van die burgeroorlog in hierdie land.

ʼn Uitmergelende krisis

Volgens hom is die rampspoedige situasie in Sirië ʼn uitgerekte krisis en is daar geen einde in sig nie, met die middelklas in dié land wat nou naby aan hongersnood is. Hy deel: “Die situasie is erger as ooit tevore en die ekonomie het heeltemal ineengestort.

“Talle mense probeer die land verlaat. Verlede week het nog ʼn familie in ons kerk weggetrek – dit het ons gebreek. Die kerk bloei, want ons het al meer as 60% van ons gemeentelede verloor omdat hulle die land verlaat het.

“Ons het egter positiewe en negatiewe ervarings gehad. Daar was pynlike situasies, met mense wat beseer of doodgemaak is. Aan die ander kant het ons Goddelike lig en vrede in ons harte te midde van die duisternis ervaar. Die Here was daar. Daar is soveel stories van Goddelike beskerming.

“Hoewel die krisis nog nie verby is nie, kan ons terugkyk en sien hoe die Here se hand oor ons was te midde van die storm. Hy laat krisisse in ons lewens toe om ʼn groter doel te bereik. God het deure vir die Evangelie oopgemaak en gebruik ons as instrumente in Sy hand om die kerk te laat groei.”

Sentrums van Hoop

Geopende Deure het sedert 2015 met hul vennote se ondersteuning altesaam 286 plaaslike kerke in Sirië en Irak gehelp om Sentrums van Hoop te word. Dié sentrums bied holistiese ondersteuning aan gelowiges deur gebed, berading, Bybelse opleiding, besigheidslenings, mediese ondersteuning en humanitêre hulp.

Pastoor Edward vertel dat die Sentrum van Hoop by sy kerk gedurende die oorlog noodleniging verskaf het, met meer as duisend pakkies wat in sommige maande versprei is. “Ons is ambassadeurs van Christus wat die boodskap van lig in die land versprei, en het in die naam van Jesus liefde en sorg aan mense in nood gebring.”

Wêreldwye geloofsfamilie

ʼn Kerkbyeenkoms by die Alliansiekerk in Damaskus, Sirië (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Pastoor Edward en sy vrou, Rana, het dwarsdeur die oorlog en Covid-19-pandemie gevoel dat hulle gemeente deur die wêreldwye Liggaam van Christus ondersteun word. “Ons voel nie alleen nie. Danksy julle ondersteuning en gebede, voel ons dat ons deel van die Liggaam van Christus is. Julle ondersteuning het dit moontlik gemaak om die lig van Christus verder te versprei en aan mense se behoeftes te voldoen,” sê hy.

Een van die maniere waarop mense by die Sentrum van Hoop ondersteun word, is ʼn mediese kliniek waar sowat 1 500 pasiënte per maand behandel word. Die kliniek, wat in 2006 geopen is, is ʼn miernes van bedrywigheid vir mense wat nie mediese sorg kan bekostig nie. Daar is sewe dokters en twaalf werkers, wat almal toegewyde Christene is wat die Evangelie versprei terwyl hulle mediese sorg verskaf.

ʼn Baken van hoop

Danksy die ondersteuning en gebede van hul wêreldwye geloofsfamilie, voel Christene soos pastoor Edward dat die Here hul gebede beantwoord en hulle in staat stel om met hul bediening voort te gaan. Dit versterk die kerk om ʼn baken van hoop te wees en na die gemeenskap uit te reik met Bybelse prediking, onderrig en noodleniging.

Jy kan ook vandag help om hoop te laat voortduur! ʼn Skenking van slegs R205 kan drie kinders van hul eie Bybels voorsien; terwyl ʼn bedrag van R620 in die winter dringende kos, wintersklere en komberse aan ʼn Christen in Sirië kan voorsien; en R1 020 noodsaaklike trauma-ondersteuning en -berading aan ʼn gelowige by ʼn toevlugsoord kan voorsien. Klik hier om vandag Christene in die Midde-Ooste met ʼn geskenk te seën.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.