Virtuele drukkies te koop ten bate van welsyn

Tekkie Tax, die nasionale insamelingsveldtog wat finansiële steun aan sowat 250 ander nieregeringsorganisasies (NGO’s) in Suid-Afrika bied, gaan ondanks die inperking en groot finansiële druk met talle geldinsamelingsinisiatiewe voort.

Organisasies wat baat by Tekkie Tax se insamelingsveldtogte sluit onder meer ouetehuise, kinderhuise, skuilings vir haweloses en diereskuilings in.

Germa Hattingh, nasionale veldtogbestuurder van Tekkie Tax, sê hoewel dit ʼn onsekere tydperk is, sal dié NGO bly woeker om na weerlose Suid-Afrikaners om te sien.

“Twee dinge word uitgelig tydens hierdie krisis – dat die menslike gees altyd sal seëvier en hoe dieper ons hierdie onbekende terrein verken, hoe meer vriendelikheid word daar getoon tussen mense reg rondom ons,” sê Hattingh.

Met markdae en geldinsamelingsgeleenthede wat op ʼn streep gekanselleer word, is dié organisasie se inkomste nou direk keelaf gesny. Die publiek kan egter steeds betrokke raak deur verskeie inisiatiewe wat intussen van stapel gestuur is.

Een hiervan is die Virtual Hug-inisiatief, waar ʼn drukkie teen R20 vir ʼn geliefde aangekoop kan word. Die virtuele drukkies is deur die Tekkie Tax-webwerf beskikbaar.

“ʼn Eenvoudige drukkie is iets waarna miljarde mense wêreldwyd tans smag. Ek weet almal is bekommerd oor hul eie onmiddellike omstandighede, dit is normaal, maar ons doen ʼn beroep op mense om aan die weerloses te dink,” pleit Hattingh.

Die jaarlikse Tekkie Tax-dag gaan ook vanjaar voort op 31 Julie. Die aanvanklike datum was 29 Mei, maar volgens die organiseerders speel die onsekerheid oor wanneer die afsonderingsmaatreëls gelig gaan word, ʼn deurslaggewende rol in die besluit om die datum te hersien.

Mense kan ook die veldtog ondersteun deur die webwerf te besoek en onder meer plakkers, skoenveters en T-hemde aan te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.