Soorte resepte:

Koebaai hasiemelk, maar hallo heerlike aarbeistroop   

(Foto: Gerhardus Geldenhuis)

Deur Gerhardus Geldenhuis

My tuisgemaakte aarbeistroop in die yskas is elke dag ʼn bietjie minder en ek weet want ek hou dit met valkoë dop. Wanneer dit by my aarbeistroop kom, het my regterhand ʼn ingeboude skaal wat presies weeg hoeveel oor is wanneer ek dit klaar gebruik het en onmiddellik weet dit is ligter as ek dit die volgende dag dan weer wil gebruik. My huurder gebruik nie suiker nie, so dit is nie sy nie. Dit is ʼn krisis en die polisie sê hulle raak nie betrokke by siviele sake nie so ek is op myself aangewese om die dief te vang.

Ek het eers regtigwaar aarbeie begin koop en eet in Engeland en so ʼn paar jaar gelede begin om my eie te pluk en te verwerk. Die plaas waar ek dit pluk het nie nodig om ʼn paaiement op ʼn Massey Furgeson-trekker te betaal nie en dus is die prys baie billik en goedkoper as wat ek dit in die winkel kan kry. My hardwerkende Afrikaner-gene kom gewoonlik sterk deur en ek pluk hopeloos te veel aarbeie en ander vrugte. My gedagtes maal en bruis oor al die heerlike dinge wat ek gaan maak met die swartbessies, frambose, swart en rooi aalbessies, kersies, Morello-kersies en bessies wat nie eers name in Afrikaans het nie.

Wanneer ek dit dan begin verwerk wonder ek oor die oormaat arbeidsadel en het die klein bietjie aarbei en ander bessies ewe skielik ‘n ‘n berg ontaard, en daar is net soveel konfyt wat mens in ‘n jaar kan opeet al skep jy dit met ‘n eetlepel op jou roosterbrood.

Die oormaat vrugte beteken ek soek dan makliker resepte om dit wat nie konfyt geword het nie te omskep in produkte sodat ek nie iets hoef weg te gooi nie. Daar is darem maar min dinge meer tragies as om eens eetbare vrugte weg te gooi. Een van maklikste maniere om ʼn oormaat vrugte te verwerk is om ʼn vrugtestroop daarvan te maak wat jy later met borrelwater kan meng vir ʼn heerlike drankie.

ʼn Resep vir tuisgemaakte aarbeistroop

(Foto: Gerhardus Geldenhuis)

Aarbeistroop is seker die maklikste om te maak. Was jou aarbeie, sny die blare uit en sny elke aarbei in die helfte. Weeg die aarbeie wat jy klaar verwerk het en weeg dan dieselfde gewig in rietsuiker af. Ek sê spesifiek rietsuiker want in Europa kry ʼn mens beetsuiker wat meestal presies dieselfde proe maar wat ʼn effense klankie kan gee wanneer jy koeldrankstrope maak. Kry ʼn diep glasbak en strooi ʼn bietjie suiker op die bodem, sit ʼn lagie aarbeie in en dan weer ʼn lagie suiker en eindig met ʼn lagie suiker. Ek verwerk gewoonlik so 2 kg se aarbeie, so dit is dan 2 kg se suiker. Sit ʼn deksel op en los die bak in ʼn koel vertrek oornag.

Maak jouself gereed vir ʼn totale verandering die volgende oggend, jy gaan begroet word met ʼn bak vol rooi stroop met aarbeie binne in. Gee dit ʼn lekker meng want daar gaan baie onopgeloste suiker wees en laat staan dit vir nog ʼn dag of twee. In die warm Suid-Afrikaanse weer sal ek wel aanbeveel om dit na die eerste 24 uur in die yskas te bere en roer dit gereeld om te help dat soveel as moontlik suiker oplos. Moet dit nie te lank laat staan nie want dit gaan gis selfs met al die suiker, so mens kan dit al na 24 uur verwerk. Wanneer jy reg is om dit te begin verwerk gooi die stroop af, sit die aarbeie in moeseliendoek en druk die sap uit.

Ek droog die uitgedrukte aarbeie in my lou-oond wat ʼn heerlike versnapering maak en verbasend genoeg nie so vreeslik soet is nie. Ek los die onopgeloste suiker in ʼn bak en laat dit uitdroog en kristalliseer en dan kry jy die mooiste pienk suiker wat ook ʼn lekker soetigheid is. Die stroop bêre ek in die yskas want dit gaan relatief vinnig af as jy dit nie pasteuriseer nie.

My gunsteling-gebruik van die stroop is om dit saam met ʼn bietjie melk te meng. As jy Nesquik mis dan belowe ek jou, ná jy die stroop geproe het gaan jy dink dit was altyd net rooi sementpoeier gewees. Jy kan die aarbeistroop pasteuriseer deur die bottel met aarbeistroop in koue water te sit wat jy dan stadig verhit tot dit 82 – 86 °C bereik en dan daar te hou vir 5 minute, waarna jy dit kan uithaal en laat afkoel. Moenie die glasbottels direk op die potbodem sit nie maar sit ʼn skoon vadoek onder in die pot. As jy ʼn draadrak het wat in jou potte pas nog beter, en maak die prop los en hou die nek van die bottel bo die water. Die stroop sit uit as dit warm word so ons probeer voorkom dat die bottel bars.

Debbie, dit is nou my huurder, drink ook nie regtig melk nie so ek was dus verbaas toe sy nou die dag met 2 liter melk van die winkel af kom. Ek vra toe daaroor uit en sy noem toe dat sy begin aarbeimelk maak, want dit is net so lekker en sy wou die melk vervang want sy voel al skuldig omdat sy nie kan ophou daarmee nie. Dit was toe nooit ʼn dief nie en ʼn bewys dat almal ʼn sagte plek vir suiker het, jy moet dit net in die regte vorm kry.

ʼn Ander groot gunsteling van my, is gemmerstroop. Hier is die resep wat ek gebruik.

Bestanddele:

  • 5 kg suiker
  • 3 kg water
  • 2 kg heel gemmer
  • 100 g sitroensuur
  • 300 g sitrus, lemmetjies (die beste) of suurlemoen

Metode:

  1. Kombineer die suiker, water en sitroensuur in ʼn groot pot en verhit stadig
  2. Rasper die heel gemmer in die pot in met skil en al, maar sonder die modder.
  3. Sny die sitrus in skuiwe en sit by.
  4. Verhit die pot tot kookpunt en kook saggies vir maksimum 5 minute.
  5. Laat dit oornag staan.
  6. Filtreer deur dit deur ʼn lap te gooi of ʼn fyn kombuissif sal ook werk, bottel en verseël.

Die gemmerstroop is lekker skerp aan die begin. Ek geniet om dit net so saam met koue water te drink, jy kan dit verder ophelder deur ʼn blaartjie of twee vars kruisement te kneus en in jou glas by te voeg. As jy jou eie borrelmasjien het dan is dit ook ʼn heerlike alternatief vir gewone kraanwater. Die CO2-opname word gedeeltelik deur die temperatuur van die water bepaal, so hoe kouer jou water is hoe meer borrels gaan jy in kry.

Gerhardus Geldenhuis (Foto verskaf)

As jy van ʼn bietjie bitter hou, kry ʼn suurlemoenvariteit met ʼn lekker dik skil en sny die skil in kleiner stukkies. Dit gaan help om meer van die bitter te onttrek uit die suurlemoen, so hoe fyner hoe meer bitter. Persoonlik sit ek baie min bitter by my gemmerstroop, maar die keuse is joune.

ʼn Onwillekeurige eksperiment gedurende die pandemie het beteken dat ʼn paar van die gemmerstroopbottels vir ʼn jaar agter in my spenskas gestaan het. Die gemmerstroop het ʼn heerlike harmonie ontwikkel, soos ʼn verouderde wyn, en is regtig wonderlik. Dit is die hoofrede hoekom ek so baie maak, want dan het ek genoeg bottels om weg te bêre.

Daar is nog baie meer om te sê oor vrugtekombinasies, pektien en hoe jy daarvan ontslae raak, die invloed van hitte op smaak, die gebruik van verskillende vrugtesure om die smaak te beïnvloed, maar dit sal moet wag tot ʼn volgende rubriek. Intussen hoor ek graag van enige interessante vrugtestrope wat jy al gemaak het. Kontak my gerus by [email protected].

(Foto: Gerhardus Geldenhuis)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.