Soorte resepte:

Resep: Basiese witsous

Basiese witsous. (Foto: Souse/Lapa Uitgewers)

Of dit nou oor ’n porsie blomkool is en of dit nou deel van jou gunsteling-pastagereg vorm, ’n basiese witsous is ’n stapelresep wat in elkeen se resepteboek hoort.

Bestanddele

Dun

  • 15 g (15 ml) botter/margarien
  • 15 g (25 ml) koekmeel
  • 250 ml melk
  • sout en witpeper na smaak

Middelmatig

  • 30 g (30 ml) botter/margarien
  • 30 g (50 ml) koekmeel
  • 250 ml melk
  • sout en witpeper na smaak

Dik

  • 40 g (40 ml) botter/margarien
  • 40 g (75 ml) koekmeel
  • 250 ml melk
  • sout en witpeper na smaak

Konvensionele metode

  1. Meng die botter of margarien en koekmeel in ‘n kastrol en roer met ‘n draadklitser oor matige hitte tot die smeer gesmelt het en eweredig met die meel gemeng het. Skuif opsy, voeg die melk by en klits om deeglik te meng.
  2. Verhit stadig en klits tot die sous glad en dik is. Laat prut 5 minute lank stadig, en klits af en toe om seker te maak dat die sous goed gaar is. Geur met sout en peper en sit gewoon voor, of volg die aanwysings vir die variasies en geur die sous wanneer dit klaar is.

Mikrogolfmetode

  1. Meng die botter of margarien en koekmeel in ‘n glasbeker en mikrogolf 1 minuut lank op medium om die smeer te smelt. Meng dit goed met ‘n draadklitser.
  2. Voeg die melk by en klits deeglik om dit goed te vermeng. Mikrogolf op hoog vir 1 minuut, haal uit en klits deeglik. Herhaal ongeveer 3 keer of tot ‘n gladde, verdikte sous verkry is.
  3. Geur met sout en peper en sit gewoon voor, of volg die aanwysings vir die variasies en geur die sous wanneer dit gaar is.

Variasies

Eiersous

Roer 2 hardgekookte eiers wat deur ‘n sif gedruk of baie fyn gekap is en 1-2 ml paprika of ander geursel, soos knoffel-en-kruiegeursel of droë dille, by. lndien gekapte vars dille gebruik word, voeg meer by na smaak.

Kaassous

Voeg ongeveer 125-250 ml gerasperde geurige kaas (bv. Cheddar, Emmental, Parmesaan of ‘n kombinasie van kase) by nadat dit verdik en 3 minute lank geprut het. Roer deeglik tot die kaas gesmelt het. lndien verkies, geur met 2,5 ml mosterdpoeier of aangemaakte mosterd, 15-30 ml gekapte sprietui en ‘n knippie rooi­peper of knoffelsout.

Mosterdsous

Klits 1 eiergeel goed. Berei die witsous voor en roer ‘n bietjie daarvan by die eiergeel. Plaas alles terug in die kastrol en voeg 10 ml mosterdpoeier gemeng met 15 ml asyn en 5-10 ml suiker na smaak by, en verhit totdat dit deurwarm is.

Pepersous

Voeg 5-10 ml vars gemaalde swartpeper of gemengde, gemaalde peper, 1,5 ml beesvleisaftrekselpoeier by die witsous. Vir ‘n ryker sous, roer 50-100 ml room, en indien verkies, 15 ml brandewyn, in. Wanneer die geurmiddels aangepas word, moet in gedagte gehou word dat die sous meer peperig word wanneer dit staan.

Bron: Souse.
Uitgewer: Lapa.

Deel van: Kos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.