Soorte resepte:

Resep: Hoenderkorma

Foto ter illustrasie. (Foto: Raman/Unsplash)

Dié heerlike hoendergereg is perfek vir diegene met diabetes óf vir enigiemand wat ʼn paar kilogramme wil afskud.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 500 g hoenderfilette, in 3 cm-blokkies gesny
  • 10 ml gerasperde suurlemoenskil
  • 30 ml suurlemoensap
  • 20 ml matige kerriepoeier
  • 5 ml borrie
  • 5 ml gemaalde komyn
  • 5 ml gemaalde kaneel
  • knippie rooipeper, opsioneel
  • 20 ml kanola- of olyfolie
  • 1 middelslag-ui, gekap (100 g)
  • 1 knoffelhuisie, gekap
  • 10 ml mielieblom
  • 250 ml ongegeurde laevet-jogurt
  • 2,5–5 ml sout na smaak
  • 30 ml gekapte vars pietersielie

Metode

  1. Plaas die hoenderblokkies in ʼn vlak bak. Voeg die skil, sap en speserye by en meng. Verkoel die vleismengsel vir 30 minute om te marineer.
  2. Die speserye kan maklik skroei. Verhit dus die olie net tot matig warm. Voeg die vleismengsel, ui en knoffel by en roerbraai totdat die vleis aan die buitekant verkleur, maar nog pienk binne is en die ui deurskynend is.
  3. Meng die mielieblom met 50 ml van die jogurt. Roer die res van die jogurt by die gebraaide mengsel en prut vir 5 tot 8 minute. Roer die mielieblommengsel by en prut vir 2 tot 3 minute totdat die sous dik en gaar is. Voeg sout na smaak by en strooi pietersielie oor.
  4. Bedien dit op rys saam met piesangskyfies en groenslaai.

Bron: Diabetes
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.