Soorte resepte:

Resep: Pittige hoenderlewertjies-en-sampioengereg

Pittige hoenderlewertjies-en-sampioengereg. (Foto: SAMF)

Hierdie eg Suid-Afrikaanse gereg sal wonders vir jou volgende bord kos doen.

Lewer 4 porsies.

Bestanddele

Vir die hoenderlewers

  • 1 e botter
  • 1 e olyfolie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gerasper
  • 500 g hoenderlewers, skoongemaak
  • 250 g knoppiesampioene, in die helfte gesny
  • 1 geel soetrissie, in blokkies gesny
  • 1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
  • 3 e tamatiepasta
  • 1 t gemaalde komyn
  • 1 t gerookte paprika
  • 1-2 t brandrissievlokkies
  • 2 t gedroogde origanum
  • sap van ½ suurlemoen
  • 250 ml room
  • sout en peper, na smaak

Vir die samp

  • 2 k samp
  • 4 k hoenderaftreksel
  • 125 ml room
  • 125 g crème fraîche
  • 2 e botter
  • sout, na smaak

Metode

Vir die samp

  1. Was en week die samp oornag, die dag voordat jy die lewers wil maak en opdis.
  2. Dreineer die samp nadat dit oornag geweek is en plaas dit in ’n groot pot.
  3. Bedek met hoenderaftreksel. Bring tot kookpunt en prut dan liggies vir 1-2 uur tot sag.
  4. Wanneer sag, roer die room by en bring tot prut.

Vir die lewers

  1. Dep hoenderlewers met ’n papierhanddoek droog om goeie karamelisering en verbruining aan te moedig.
  2. Verhit botter en olyfolie in ’n groot braaipan oor medium hitte. Soteer uie tot sag en voeg dan knoffel en hoenderlewers by. Soteer tot hoenderlewers bruin is, voeg dan die sampioene en soetrissies by. Geur goed.
  3. Voeg tamatiepasta, speserye en suurlemoensap by. Kook vir ’n paar minute totdat die geure saamgesmelt het en die pasta soet ruik.
  4. Gooi die room by en laat prut vir 5-10 minute. Geur goed met sout en baie varsgemaalde peper.
  5. Sit die lewers voor op ’n bed van romerige samp met ekstra suurlemoenwiggies aan die kant.

Bron: The South African Mushroom Farmers’ Association (SAMF)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.