Soorte resepte:

Resep-video: Oornag-hawermout

Oornag-hawermout. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Min mense is lief vir hawermout en tog is dit een van die beste maniere om jou dag mee te begin, aangesien dit baie vullend en hoog in proteïne is. Hier is twee maklike resepte wat jy sommer die dag voor die tyd kan maak en oornag in die yskas kan los. Dié maklike resepte maak hawermout só lekker dat die kinders selfs vroeg daarvoor sal opstaan op ʼn koue skoolvakansiedag.

Die hawermout kan warm of koud geniet word. Indien jy dit koud verkies, is dit nie nodig om dit in die mikrogolf te plaas nie. Die resep maak genoeg vir een.

Grondboontjiebotter-en-jellie oornag-hawermout

Bestanddele

  • ½ koppie melk
  • ½ koppie hawermout
  • ½ koppie ongegeurde jogurt
  • 1 teelepel vanieljegeursel
  • 1 teelepel grondboontjiebotter
  • grondboontjies
  • jellielekkers van jou keuse

Metode

  1. Gooi die melk, jogurt, hawermout en vanieljegeursel in ʼn lugdigte houer of glasbottel.
  2. Meng alles goed en laat staan dit oornag in die yskas om dik te word.
  3. Meng alles weer goed die volgende oggend.
  4. Plaas dit in die mikrogolf vir sowat 2 minute op 100% krag. Hou dit dop sodat dit nie oorkook nie.
  5. Plaas ʼn teelepel grondboontjiebotter bo op en strooi dan met ʼn paar grondboontjies en jellielekkers

Malvalekker-en-sjokolade oornag-hawermout. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Malvalekker-en-sjokolade oornag-hawermout

Bestanddele

  • ½ koppie melk
  • ½ koppie hawermout
  • ½ koppie ongegeurde jogurt
  • 1 teelepel kakao
  • 1 teelepel klapper
  • 1 eetlepel muesli
  • malvalekker
  • sjokoladestukkies

Metode

  1. Gooi die melk, jogurt, hawermout en kakao in ʼn lugdigte houer of glasbottel.
  2. Meng alles goed en laat staan dit oornag in die yskas om dik te word.
  3. Meng alles weer goed die volgende oggend.
  4. Plaas dit in die mikrogolf vir sowat 2 minute op 100% krag. Hou dit dop sodat dit nie oorkook nie.
  5. Gooi die klapper en muesli bo-op, sny die malvalekker in stukkies bo-oor en sprinkel met sjokoladestukkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.