Soorte resepte:

Resep: Worsies met ʼn pikante appelkoos-marmelade

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die marmelade is heerlik saam met hoenderporsies, geroosterde varktjops of selfs op hoender- of ander burgers.

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

  • 5 ml olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 15-20 ml komynsaad, effens gekneus of nog 5-10 ml fyn komyn
  • 5 ml fyn gemmer
  • 10 ml mosterdsaad of 2,5 ml mosterdpoeier
  • 150 g sagte (Turkse) droë appelkose, grofgekap
  • 40 ml sagte bruinsuiker
  • 250 ml hoenderaftreksel
  • 75 ml rooiwyn- of druiweasyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • enige worsies soos varkworsies, chipolata, volstruis- of boerewors (gebruik ongeveer 2-3 worsies per persoon of ongeveer 750 g volstruis- of boerewors)

Metode

  1. Verhit die olie oor matige hitte in ʼn klein kastrolletjie en soteer die ui tot sag.
  2. Voeg die speserye en mosterd by en soteer nog 2-3 minute. Roer die appelkose by en voeg die suiker, aftreksel en asyn by.
  3. Roer deeglik tot die suiker opgelos het en verhit dit tot kookpunt. Prut 10-15 minute oor effens laer hitte, terwyl die sous gereeld geroer word. Prut tot die sous begin verdik en geur na smaak.
  4. Plaas worsies intussen met ʼn bietjie ekstra olyfolie in ʼn braaipan. Verhit dit saam oor matige hitte om te verhoed dat die velletjie oopbars. Braai tot goudbruin aan die onderkant. Draai die worsies om en braai aan die ander kant tot net goudbruin, maar nie gaar nie. lndien verkies, kan die worsies dan oor lae hitte, met ʼn deksel, vir nog 7-10 minute geprut word, of tot net gaar volgens die dikte van die wors. Dit sal ‘n sappiger eindresultaat lewer.
  5. Sit dit op kapokaartappel of ʼn ander stysel of groente voor en skep die appelkoos-marmelade bo-oor.

Variasies

  • Vervang die asyn met 160 ml port, rooiwyn of sjerrie en verminder die aftreksel dan tot 160 ml.
  • Tamatie-marmelade: Vervang die appelkose met 3-4 ryp tamaties, geskil en gekap. Pas die geurmiddels aan volgens die tamaties se rypheid en voeg fyngerasperde vars gemmer en ʼn klein rooi brandrissie, ontpit en fyn gekap, by. Prut 15-20 minute of tot redelik dik.

Bron: Worsgeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.