Meeste oppervlaktes neem toe in eerste oesskatting

Boere is nou in alle erns besig om vir die somerplantseisoen voor te berei. (Foto: Du Preez de Villiers 

Die somerplantseisoen is op hande en boere is van voorneme om vanjaar meer hektare as verlede jaar aan te plant, behalwe vir geelmielies waarvoor daar 12 300 ha minder beplan word en 80 100 ha minder onder sojabone. Grondbone is die groot uitblinker met ʼn verwagte toename van 36%.

Die Suid-Afrikaanse oesskattingskomitee het onlangs die eerste oesskatting vir die 2024-seisoen uitgereik, waarin slegs die voorgenome oppervlaktes van die sewe belangrikste gewasse aangedui word.

Daar word beplan om 1,58 miljoen ha witmielies (verhoging van 4,1%), 1,05 miljoen ha geelmielies (-1,2%), 640 000 ha sonneblom (+15,2%), 1,07 miljoen ha sojabone (-7%), 42 550 ha grondbone (+35,9%), 38 000 ha sorghum (+11,8%) en 42 300 ha droëbone (+15,4%) te plant.

Verlede jaar is daar 1,52 miljoen ha witmielies, 1,06 miljoen ha geelmielies, 555 700 ha sonneblom, 1,15 miljoen ha sojabone, 31 300 ha grondbone, 34 000 ha sorghum en 36 650 ha droëbone geplant.

Verlede jaar se finale tonnemaat is verlede week bekendgestel en ʼn totaal van 16,40 miljoen ton kommersiële mielies het gerealiseer, wat uit 7,8 miljoen ton witmielies en 7,62 miljoen ton geelmielies bestaan.

Daar het ook 729 110 ton sonneblom, 2,76 miljoen ton sojabone, 51 910 ton grondbone, 94 360 ton sorghum en 50 260 ton droëbone gerealiseer.

Die drie provinsies waarin die meeste mielies geproduseer word, is die Vrystaat, wat 1,24 miljoen ha wil voorberei, Noordwes met 540 000 ha en Mpumalanga met 520 000 ha.

Vir die nie-kommersiële mieliesektor word die totaal op 358 620 geskat, wat ʼn afname van 5,33% verteenwoordig in vergelyking met die 378 800 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes in dié sektor is 664 040 ton, wat 0,44% minder is as die 667 000 ton van die vorige seisoen.

Die twee grootste streke waarin nie-kommersiële mielies geplant word, is die Oos-Kaap met 48%, gevolg deur KwaZulu-Natal met 21%.

Die Oesskattingskomitee bestaan uit amptenare uit die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling; provinsiale departemente van landbou; verskeie LNR-institute wat grond, klimaat en water insluit; die Kleingraaninstituut; die Instituut vir graangewasse; BFAP en Statistieke Suid-Afrika (SSA).

Die volgende voorlopige oppervlakteskatting word volgende jaar op 30 Januarie vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.