Groot goed op pad vir Stellantis!

Stellantis is die vierde grootste motorgroep ter wêreld en verteenwoordig 14 handelsmerke, waarvan ons sewe in Suid-Afrika beskikbaar het. In Suid-Afrika kry ons Abarth, Alfa Romeo, Citroën, Fiat, Jeep, Opel en Peugeot.

Stellantis het onlangs vir ons sy produkaanbieding gewys, asook toekomstige modelle wat eersdaags hul weg na Suid-Afrika sal vind.

Die karretjie waaroor ek die mees opgewonde is, is die Fiat 500E. Na my mening is dit wat ʼn elektriese voertuig nog altyd moes wees. ʼn Pragtige klein dingetjie met ʼn elektriese dryfstelsel. Die Fiat 500E het ook ʼn stoute boetie – die Abarth 500E. Ek kan nie wag om albei onder hande te kry nie.

Uit Stellantis se Opel-stal sal ons vanjaar die nuwe Corsa sien. ʼn Model wat geen bekendstelling nodig het nie – ʼn uiters gewilde buksie op sy dag in Suid-Afrika. Ek sien uit na die volgende een. Twee ander nuwelinge is ʼn enkelkajuit-werkesel-weergawe van die Peugeot Landtrek en die laaste is Jeep se rateltaai bosbaas, die Wrangler. Ons sal vanjaar die nuwe enjins hier kry – ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin. Kom ons hoop hy is ligter op sous as die V6.

Dit bring my by die groot nuus: Peugeot se Landtrek wat tans in samewerking met Changan Automobile in China vervaardig word, sal van Januarie 2026 in Suid-Afrika in Peugeot se eie aanleg gebou word. Daar word volgende maand met die bou van die aanleg in Koega in die Oos-Kaap begin.

Om verskeie redes maak dié bestemming sin. Stellantis beoog om die Landtrek vanaf Suid-Afrika na die res van Afrika uit te voer … dus die hawe. Al die ondersteunende verskaffers is ook reeds in die omgewing wat onderdele en items soos bande aan Volkswagen in Kariega, Isuzu in Struandale en natuurlik Mercedes-Benz in Oos-Londen voorsien.

Die Landtrek wat Suid-Afrika sy tuiste maak, bring drie groot geleenthede mee. Eerstens is daar die duisende werksgeleenthede wat dit skep. Tweedens is dit die geleentheid om die gehalte van die Landtrek wesenlik te verbeter sodat dit ʼn ware mededinger in die Suid-Afrikaanse mark kan wees en direk die bul by die horings kan pak – bedoelende Isuzu se D-Max, Ford se Ranger, Toyota se Hilux en Nissan se Navara wat almal hier vervaardig word.

Die derde geleentheid is bloot die feit dat Stellantis uitvoerkrediete sal verdien op elke Landtrek wat uitgevoer word. Dié krediete kan dan teen invoere afgeset word – dan bespaar Stellantis 25% op elkeen van daai invoere waarvoor hulle moontlik ʼn uitvoerkrediet het. Dit sal die hele Stellantis-reeks se voertuie meer bekostigbaar maak. Dalk hou hulle ʼn persent of vyf vir hulself, maar ek kan jou waarborg – die oomblik dat hulle werklik op prys kan meeding, sal hulle beslis om markaandeel te groei.

Vir die eindverbruiker en die Suid-Afrikaanse ekonomie is dit goeie nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vonkprop ·

Net jammer die voertuie se pryse kom nie af nie al word hulle plaaslik vervaardig. Kyk maar na die nuwe Ford Ranger byvoorbeeld, want die regering soek sy pond vleis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.