Landbou moet lei in beurtkragkrisis

  • Die pa en seuns wat aan die stuur van sake by die Beefmaster-groep staan is Roelie van Reenen,  voorsieningskettingbestuurder; Lourie het die onderneming begin en Louw is die uitvoerende hoof. (Foto: Facebook/Beefmaster SA)

    Deur Roelie van Reenen, voorsieningskettingbestuurder by die Beefmaster-groep

Terwyl die Suid-Afrikaanse regering dit oorweeg om beurtkrag as ’n nasionale ramptoestand te verklaar, het die ineenstorting van kritieke infrastruktuur weens onophoudelike beurtkrag vir boere en ondernemings in die landbouvoorsieningsketting kookpunt bereik.

Die stelsel was voorheen onder druk, maar met beurtkrag het dit oorgeprut tot ’n volskaalse krisis, en ons sien hoe dit ons land se voedselsekerheid bedreig.

Boere wat van besproeiing afhanklik is om hul oeste nat te lei – of dit nou mielies, vrugte of ander plantegroei is – kan eenvoudig nie besproei nie weens die lang tydperke van beurtkrag. WhatsApp-groepe in ons gemeenskap is vol video’s van boere wat wys hoe hul gewasse verdor.

Ons moet onthou dat boere bekwame mense is, en hulle sal waarskynlik dinge soos kragopwekkers gebruik om pompe aan te dryf om gewasse nat te hou, wat dit duurder gaan maak om te produseer. Uiteindelik sal hierdie koste ongelukkig aan die verbruiker deurgegee word, wat beteken voedselpryse sal waarskynlik styg.

Die impak van langdurige beurtkrag is waarskynlik voedseltekorte of duurder items.

Groot probleme staar ook munisipaliteite in die gesig, insluitend die versuim om tariewe in te vorder en toenemende druk om belastingbetalers op hul boeke te hou, gegewe dat baie van hulle van die nasionale netwerk afbeweeg deur te begin om van alternatiewe krag gebruik te maak.

Die Beefmaster-groep is die grootste private werkgewer in die Kimberley-omgewing waar ons ʼn vleisverwerkingsaanleg het, terwyl ons voerkraal in Christiana in Noordwes is.

Kimberley het een van die hoogste kragtariewe in die land wat deur munisipaliteite voorsien word. As ’n onderneming so groot soos ons besluit om van die netwerk af te gaan om die koste van produksie te beperk, sal Kimberley se munisipaliteit ’n beduidende bydraer verloor.

Boonop beteken voortdurende tariefverhogings dat dit onekonomies word om te produseer. Dit is ’n baie werklike scenario wat baie ondernemings oorweeg, wat rampspoedige gevolge vir munisipaliteite gaan inhou.

Is daar ’n oplossing?

Vroeër hierdie maand is berig dat stedelike metropole soos Johannesburg, Kaapstad en Nelson Mandelabaai probeer om die impak op inwoners te versag en kritieke infrastruktuur te beskerm deur voort te gaan met planne om Eskom te laat vaar.

As daar aangeneem word dat die metro’s hul kragrekeninge betaal, is die probleem met hierdie plan dat as munisipaliteite heeltemal na onafhanklike kragprodusente oorgaan, Eskom drie groot belastingbetalers sal verloor – en dit sal die ondergang van die staatskragvoorsiener verder aanwakker.

’n Moontlike oplossing kan wees dat munisipaliteite bereid is om elektrisiteit van die publiek terug te koop. Dit is reeds aan’t gebeur in sommige munisipaliteite, maar dit moet ’n stap verder geneem word.

As elke huishouding en onderneming aan die munisipaliteit in hul gebied kan terugverkoop, kan die grootste gedeelte van die probleem baie vinniger die hoof gebied word, aangesien dit deur die rompslomp sal sny en korrupsie sal beperk.

Veranderinge aan kraginfrastruktuur sal aangebring moet word; ’n klein prys om te betaal om die doel te bereik. Die uitwerking van so ’n ontplooiing kan selfs wees dat Eskom krag aan nywerhede kan voorsien sonder kragonderbrekings.

Landbou-ondernemings het ’n plig om munisipaliteite in hul gebiede, wat onder die bykomende druk van beurtkrag swig, by te staan.

As ek iemand probeer lok om vir my te kom werk, maar die dorp waarin hulle sou woon het nie water nie, want daar is nie krag om die pompe aan te skakel nie en die skool gaan agteruit omdat dit nie die ligte kan aanhou nie, gaan ek nie daarin slaag nie.

As ’n besorgde burger en onderneming moet ons ons gemeenskappe en munisipaliteite help met toepaslike vaardighede waar ons kan, anders gaan ons almal swaarkry.

Die Beefmaster‑groep het die Lekwa-Teemane-munisipaliteit bygestaan om water tydens beurtkrag te voorsien deur die pompe aan die loop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.