Noord-Kaap-streek bring nuwe lewe in landbou-opleiding

(Foto: Bo-Karoo Opleiding)

By Bo-Karoo Opleiding word daar gefokus op die gehalteopleiding en -opvoeding van studente. Hierdie benadering in die landboukonteks berei studente voor vir die uitdagings en vereistes van die werkplek, verseker dat hulle toegerus is om suksesvol hul loopbane aan te pak en om by te dra tot die volhoubaarheid en groei van die landbousektor. Die studente se inskakeling by BKO se studentelewe, wat ten volle geïntegreer is in die Orania-gemeenskap, dra by tot die persoonlike groei en ontwikkeling van ons studente se sosiale vaardighede.

Die praktiese ondervinding wat studente opdoen help hulle om te groei en te ontwikkel as toekomstige landboupraktisyns. Dit stel hulle nie net in staat om hulle teoretiese kennis toe te pas nie, maar ook om praktiese vaardighede aan te leer en bewus te word van die belangrikheid van dierewelstand, bewerkingspraktyke en die toepassing van bestuursvaardighede.

Die ligging van die landboustreek in en rondom Orania hou vir ons studente ‘n groot voordeel in, naamlik toeganklikheid tot praktiese ondervinding en leerervaring oor ‘n breë spektrum van landboubedrywe. Hulle doen kennis op van  besproeiingstegnieke en waterbestuur in die droë Karoo-gebied, veeboerderypraktyke in ‘n semi-droë omgewing, peakanneutproduksie en die unieke uitdagings en geleenthede van wildboerdery. Daar word selfs van studente verwag om deel te vorm van boerderye se personeel- en finansiële bestuur.

Onlangs, tydens die praktiese komponent van skaaphantering, het die studente kennis gemaak met die korrekte praktyke en die verskillende metodes wat gevolg kan word om diere te kastreer en hul sterte af te sit. Studente het ook die geleentheid gekry om hand by te sit en te leer van die verskillende metodes van wildvang, asook die beplanning en administrasie van ‘n wildveiling.

(Foto: Bo-Karoo Opleiding)

Tydens praktiese werk word die studente met vele uitdagings gekonfronteer en daarom dien dit as ‘n groot leerskool vir hulle. Die prakties vereis harde werk en vind plaas in uitdagende weersomstandighede. Dit is belangrik om realisties te wees oor die aard van landbouwerk en die vereistes wat daarmee gepaardgaan sodat ons studente die werklikheid van boer-wees kan beleef en verstaan. Studente moet bewus wees van wat boerdery in werklikheid behels, en toegerus wees met die regte ingesteldheid en vaardighede. Opleiding wat studente voorberei op die uitdagings van die werkplek dra by tot hulle veerkragtigheid; dit leer hulle deursettingsvermoë en bevorder hulle werksetiek.

Ons is opgewonde oor die toekoms van landbouers met ‘n opleidingsgeskiedenis wat deur Bo-Karoo Opleiding loop. Ons is bewus daarvan dat baie studente hierdie geleentheid met beide hande aangryp en dat hulle reeds diep spore in die landboubedryf trap. Hulle entoesiasme, toewyding, bereidwilligheid om te leer en te groei is ‘n inspirasie en herinner ons aan die potensiaal wat in die jonger generasie van landbouers lê.

Die Noord-Kaap-streek bied ‘n hoopvolle toekoms vir die landboubedryf en vir landbou-opleiding. Ons hoop om rekordoeste te lewer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.